OTEL DOGA IN DIE KACKARBERGE

OTEL DOGA IN DIE KACKARBERGE

 

In ‘n klein dorpie hoog bo in die voetheuwels van die Kackarberge is Idris Duman gebore so 7 jaar voor die groot oorlog.  Die dorpie is maar afgelëe en in die winter afgesny van die dorpe nader aan die Swartsee vanweë die sneeu.  In die winter is dit koud, baie koud in hul kliphuise.  Die wind waai vanaf die Swartsee in die valley op en bring baie reën in die somer.

Soms is hulle dan ook vir dae afgesny as gevolg van die vol riviere.  Die onderwys hier in die diep berge was maar skraps hoofsaaklik as gevolg van die oorlog en toe hy 12 jaar oud was stuur sy ouers hom na Ankara om daar skool te gaan.  Hy was ‘n goeie student en gevolglik stuur hulle hom na Parys waar hy later sy studies as Ingenieur voltooi.  Hy toer 2 jaar deur Australië en werk as Ingenieur op verskeie plekke in Afrika en Asië.  Selfs by Cabora Basa met die bou van die dam.  Hier moet Protugese soldate hulle beskerm teen Frelimo.  In 1983 keer hy terug na sy geliefde vallei en besluit om laer af in die vallei, waar die winters meer gemating is, vir hom ‘n huis te bou.  Hy koop in 1984 vir hom ‘n murasie tussen die rivier en die pad en bou vir himself ‘n baie beskeie huisie.  Op ‘n dag klop besoekers aan die vallei aan sy deur en vra slaapplek.  So begin hy om ‘n paar kamers aan te bou en oor die volgende 10 jaar kry Otel Doga sy beslag.

Dit was die eerste losieshuis of Otel in die vallei.  Deesdae is die vallei een van die top bestemmings vir die Turke van orals asook ‘n paar ander toeriste.  By die dorp Camlihemsin verdeel die vallei in die “Firtina Valley” en die “Ayder Valley” wat vandag die Kacker Mountain National Park is.

Die Firtina vallei het sy tradisionele leefstyl behou met klein plasies in die diep valleie en op die plato’s bo 2000m.

Dertig jaar later vra ek en Marianne blyplek by die nou heelwat ouer Idris Duman in die Firtima vallei.  Steeds sjarmant maar nou amper 80 sê hy “Ja dis reg mits ons nie te vol fiemies is nie”.

 

Hy het nooit getrou nie en sy familie help hom met die hotel werk…  eenvoudige mense – vallei mense.  Sy Otel Doga het karakter en dit voel asof ons by ‘n familie intrek.  Saans eet almal saam plaaskos.  Ons kamer is teen die rivier en ons slaap met die ruis van water in ons ore.
Die kamer is eenvoudig maar skoon met ‘n toegeboude stoep teen die water.  Aan die einde van die stoep is die wk, stort en wasbak.  Omdat een van die vensters nie glas in het nie hoor ons heelnag die rivier.  Dit voel asof ons bo die rivier bly en het ‘n besondere uitsig van die rivier stroomop.  Die woude oorkant die rivier klou vas aan die steil wande en hang oor die snelvloeiende water.  Toe ons twee dae later vertrek word ons gegroet asof ons familie is.  Ja die Turke ken gasvryheid, maar ons moet darem net nie te veel vol fiemies wees nie.