AFRIKA BRIEF 6

AFRIKA REIS : JOHAN & MARIANNE  (6)      –         19 Julie 2010

Laas toe ek geskryf het was ons in Bamako (sê Bamma-ko), die hoofstad van Mali – ‘n stad wat beïndruk met sy breë boulevards en nuwe geboue.  Ander gedeeltes is steeds tipies Afrika.  Ons eet tradisionele kos in ’n oulike restaurant.  Bamako is weerskante van die Niger-rivier met 2 brûe wat verbind.  Ons hotel is ‘n vyf-ster (so 3-ster gehalte) en ons geniet die luukse.  Duidelik is die mense hier meer gewoond aan toeriste.

Die pad noord is teer en later baie goeie grondpad (voel soos ‘n teerpad).  Slaap die nag by Nara by die Mauritanië grens in droë semi-woestyn doringveld.  Steeds is daar omtrent geen muskiete, maar wel poele water van onlangse reën.  Die reën het nog nie regtig die gras laat deurbreek nie.

                         In die Sahel is dit moeilik om te boer. Dit is net sand en ons sien baie dooie diere langs die pad

Bedouine met hul diere. Hulle slaap in die middel van die dag onder hul tente. Dagtemperature so 45 grade C

Die hele volgende dag (12 ure) word by die grenspos oorgang spandeer wat ‘n 100km op ‘n tweespoor pad insluit.  Ek is maar die 550ste persoon wat oor die grenspos vanjaar gaan.  Ons kom agter dat hierdie grenspos nie die hoofgrenspos tussen die 2 lande is nie.  Mauritanië het ‘n militêre bewind en sou in 2009 ‘n verkiesing gehad het.  Aangesien olie ‘n paar jaar gelede ontdek is, is die weermag nie baie lus om ‘n verkiesing te hou nie.  By die grenspos is dit duidelik dat ons hier ‘n polisiestaat het.  Ons moet ons motor presies in gelid parkeer en mag nie ry sonder polisiebegeleiding (escort) nie.  Van die plaaslike bevolking wou gesels, maar is gou verbied deur die polisiemanne.  Ook word ek verbied om ‘n foto van ‘n donkiekar te neem.  Ons begeleidingsmotor kom ‘n uur later met groot vaart aan en stop met ‘n rally-tipe draai en stof – totaal uitgelid.  Die bakkie is vol van “die manne” met houding.  Elke voertuig van voor word wild van die pad gejaag sodat ons kan verbykom.  Die voertuie van voor ry sommer 10 meter van die pad of want hier maak jy nie die polisie kwaad nie.

‘n Dorpie in die Sahara

Ons bereik Nema met groot spoed nadat ons eers die liviete voorgelees is omdat ons nie naby genoeg aan mekaar ry nie (ons “moet” stof eet).  Steeds hou hulle ons paspoorte en weier om dit terug te gee.  As ons vra hoekom sê hulle net “The Mauritanian way” en lag.  In Nema, ‘n vuil stowwerige dorp, kry ons verpligte versekering.  Ons probeer geld ruil en gou blyk dit dat hulle ons ‘n swak koers gee.  Ek loop om die blok en kry ‘n vriendelike winkelbaas wat sê dat hy nie eintlik geld ruil nie, maar dat hy my moet help en bel toe sy broer vir ‘n koers.  Ek ruil toe maar net 50 $.  Ek is beïndruk met die winkeleienaar wat my probeer help.  Intussen ruil die ander by ‘n nie ingeligte geldruiler en kry ‘n baie beter koers.  Dadelik gaan ek terug na die winkeleienaar, maar hy sê dat die 50 $ reeds weggestuur is – binne 5 minute?!  Duidelik het my mensekennis my hier totaal in die steek gelaat.  Sy vriendelikheid was slegs vir “good business”.

Vroue hier is toe van doeke en lyk vreesbevange en kinders het geen ontsag vir ons nie en geniet dit om ons te tart.  Die een seuntjie probeer ons ‘n vuil noot gee as geskenk – ‘n poging om dan te sê ons vat sy geld – ons weier en hy hou aan.  Stanley tel ‘n klip op en maak of hy gaan gooi – nou loop die seuntjie mank en wys hy gaan polisie toe omdat hy met ‘n klip gegooi is.  Stanley storm op hom af en skielik is die mankheid weg en kan hy hardloop.

Die polisie is besig om vir die tweede maal in ‘n tweede boek elke denkbare stukkie inligting stadig oor te skryf.  Hulle het steeds ons paspoorte en dui aan dat hulle ons na ‘n hotel wil neem.  ‘n Beampte sê op ‘n ondeurdagte oomblik dat ons die paspoorte kan vat.  Ek gryp die paspoorte en laat waai.  Hulle wou my nog stop, maar ek hoor niks.  Uiteindelik is ons weer baas van ons eie paspoorte en parkeer ek ‘n blok weg.  Hulle speel hul troef.  Ons moet aanmeld by die Gendarmerie (nog ‘n soort polisie) maar díe laat ons gaan.

Ons ry ‘n entjie van die pad en kamp uit in die Sahara noord van Nouakchott die hoofstad van Mauritanië

Sowat 20km buite die dorp ry ons baie diskreet van die pad af en slaap in die veld (half woestyn).  Agt uur die aand ontdek die polisie ons en heelnag bly tussen 2 en 6 voertuie daar om ons op te pas.  Hulle het selfs op ‘n stadium hulle ligte verby ons geskyn om die denkbeeldige vyand te sien.

Mauritanië is droog, vuil en die mense sal nie spontaan waai soos in die ander lande nie.  Hier is 99,9% van die mense Moslem en duidelik word die vroue hier met geen respek behandel nie.  Die elegansie en mooi klere wat die vroue gedra het in Kameroen en Mali ontbreek hier asook die mooi gelaatstrekke.  Duidelik is die lewe hier gebasseer op oorlewing.

Orals langs die pad lê sakke met vullis wat met die tyd toewaai onder die sand.  Die amper 1000km van Nema na Nouakchott is alles geteer en ons vorder vinnig.  Halfpad slaap ons in die bos.  Ons ry by 20 – 30 polisiepunte verby, maar aangesien hulle almal van ons weet gaan dit later baie vinnig.  Jy gee net jou FISH (‘n papier met alle denkbare inligting van die motor en sy insittendes – selfs die ouers se name en geboortedatums).  Op ‘n stadium maak ons ‘n verdere 50 kopieë elk van die wonderlike FISH.  Die landskap is halfwoestyn en woestyn wat heeltyd wissel – meestal vervelig met hier en daar ‘n ligpunt.  Oral is bedouintente met manne wat slaap en die vrou is so onsigbaar as moontlik.  Langs die pad is oral dooie beste, donkies, bokke en selfs kamele.  Op ‘n stadium tel ek 40 dooie diere in sowat 400m.  Hier is hopeloos te veel diere wat moet sand vreet.  Dit het onlangs baie gereën, maar die veld wys dit nog nie.

Nouakchott is die hoofstad van Mauritanië en is vuil en vervelig.  Die militêre regering het Mauritanië se visvangregte aan Europa verkoop vir 67 miljoen € per jaar.  Nou vang die vissermanne van Mauritanië net 50 % van hule gewone hoeveelheid vis en word die res van die vis weer terug gekoop in geblikte vorm.  Die Afrika manier.  Europa wen en die militêre leiers wen en die bevolking verloor grootskaal –die tipiese storie van Wes Afrika – ‘n tragedie.

Die Arabiere hier is gewoond aan die hitte en die wind

Ons slaap noord van die stad in gruiswoestyn met net vlaktes.  Frikkie met sy Landrover kom later nadat die petrolpyp herstel is by Nouakchott en ry heeltemal verkeerd – val vas in die duine.  Laat die volgende dag kom ons by die grens van Morokko aan nadat Frikkie weer by ons aangesluit het.  Ons is bly om Mauritanië te verlaat.  Dit neem 2 ure om deur die douane te kom.

Niemandsland is 3km wyd met die slegste pad wat ons gery het sedert ons pad gemaak het in die DRK.  Halfpad staan ‘n groot vragmotor op ‘n klipplaat en spin met van sy wiele in die lug.  Die grens sluit 18H00 en ons moet in niemandsland oornag al was ons 17H50 by die hek.  Dave se aanslag dat hulle ons moet deurlaat omdat daar vroue by ons is werk nie, ‘n vrou se status is maar laag in moslemlande.

Noodgedwonge slaan ons kamp op agter die landmyne bordjie tussen ‘n statige Mercedes wrak en ‘n vervlenterde Citroen paneelwa-wrak (of was dit ‘n Renault?).  Marianne wend ‘n “futile” poging aan om die papiere en plastiek op te tel.  ‘n Mauritaan stap die kamp binne en plak himself op ‘n kampstoel neer, steek ‘n sigaret op en lig ons in dat hy en sy Morokaanse vriend ons vanaand gaan oppas.  Op ‘n meer Suid-Afrikaanse manier vertel ons hom om vinnig die kamp te verlaat (Ai, die Europiërs is darem maar makliker kliënte as die manne van die suide).

Die nag word ons opgepas deur ‘n vetgevrete gesofistikeerde brak, wat in die Citroen wrak slaap en elke ander hond word met groot lawaai deur die loop van die nag weggejaag.  Dit lyk asof elke kar sy eie waghond het.  Jammer tog dat ek nie Marianne se kettie wat sy van die Touareg in Mali gekoop het in die nag kon raakvat nie.

Ons het heelwat drama aan die Morokaanse kant van die grens en dit neem ons 5 ure om deur al die prosesse te kom.  Morokko het naamlik Wes Sahara so 10 – 15 jaar gelede geannekseer en ons het Wes Sahara se vlag op ‘n “sticker” op ons motors gehad.  Ons het naamlik ‘n “sticker” van die vlag van elke land op weerskante van die motors geplak.  Iets wat baie belangstelling oral uitgelok het – altyd positief behalwe hier waar ons verdink is as spioene of terroriste.  Die Wes Sahara vlag “sticker”s is met groot vertoon van die voertuie afgehaal.  Op die ou end nadat ons motor ge-ekstraal is vir wapens kon ons gaan, maar by elke padblokkade word die details weer bekyk.  Gelukkig maak ons reputasie dat beide die polisie en die Gendarmerie ons elke keer verwag en weet ons inligting is alles op die FISH en later lyk dit of ons spioen status besig was om te kwyn.  Hier, veral in die geannekseerde gedeeltes, is daar baie polisie stoppe, tot 2 voor ‘n dorp en 2 na ‘n dorp.  Gelukkig deel ons net FISH papiere uit.  Slaap die aand by Dakha by ‘n minder indrukwekkende kampplek op ‘n skiereiland.  Dit is duidelik dat Morokko baie meer ontwikkel is as die vorige lande.  Dit is koud (by die see) en dit waai aanhoudend.  Die volgende nag slaap ons by ‘n oulike bedouin kamp by ‘n oase (eienaars is Belge) naby Laayoune.  Steeds waai die wind en is dit koud.

Die volgende dag se ry tot by Massa was maar moeilik.  ‘n Nou hobbelrige teerpad met baie vragmotors en ‘n wind wat ons rondgooi.  Die pad is so nou dat die busse en vragmotors amper op die wit lyn moet ry om te pas en ons met een wiel halfpad van die teer af moet ry om verby te kom.  Boonop is die sykante ook plek-plek uitgekalwe en ruk die wind ons rond.  Om 2 vragmotors by mekaar te sien verby ry is nogal iets.  Die woestyn is net vervelige grys woestyn vir 1500km.  Baie fosfaat word gemyn en daar is dorpe (groot en klein) om die mynbou en visbedryf te ondersteun.

asdfghjk
zxcvbnm,

Ons het vanmiddag die groep verlaat en gaan nou 2 weke op ons eie deur Morokko toer wat ons meer vryheid gee vir voëls kyk en fotografie.  Tans is ons in ‘n gebied wat lyk soos die klein Karoo maar met heelwat meer riviere en baie dorpe.  Ons slaap by ‘n karavaanpark by die see, net suid van Agadir by Massa.  Die karavaanparke hier is omhein en dan ingedeel soos parkeerplekke met selde êrens gras te sien.  Tog ‘n mooi uitsig oor die see net voor ons en gelukkig is die park leeg – hulle moet maar in RSA kom leer hoe lyk ‘n karavaanpark.

 

asdfghj

Die 18de besoek ons ‘n natuurreservaat, bekend vir sy voëls.  Interessant maar min voëls nou dat die voëls nie migreer nie.  Op ons reis na Tafraoute, diep in die binneland in, is pragtige landskappe en passe.  Die dorpies teen die berghange is in pastelkleure.  Alle huisies is vierkantig, met klein vensters en platdakke – meestal dubbel of 3 verdieping en in meeste dorpies ‘n spierwit moskee met ‘n toring.  Middagtee was by ‘n hotel op ‘n krans met uitsig na twee kante.  Ons sou nogal hier wou bly.  Tipies Morrokaans met persiese (Morrokaanse) matte en baie kunswerke teen die mure.  Dis ‘n 4 ster vir R320 per persoon per nag.  Ontbyt en aandete is ingesluit – wat ‘n “bargain”.  Van die kamers waar mens kan kuier het ou foto’s van baie wêreldleiers , onder andere Eisenhower en vele ander.  Baie interessant en selfs ‘n swembad.  Daar was ook geen ander toeriste.  Tog besluit ons om verder te ry.

Marianne met ‘n slang om haar nek in Marrakesh

 Tafraoute is ‘n pragtige dorp tussen die berge met granietkranse bekend vir sy rotsklim.  Ons vind op pad na Marrakech ‘n verlate pad – baie jare nie gebruik en teen die berghange stop ons in die pad en kamp.  Geen mens in sig, met ‘n uitsig oor 2 rivierlope wat nou droog is.  Dit is die aand doodstil met geen wind.  Hierdie berge is die Anti Atlasgebergtes wat droog is in die somer met reën in die winter.  Op pad na Marrakech gaan ons oor die indrukwekkende Tizi-n-Testpas in die hoë Atlas (2092m hoog) met afgronde en nou paadjies.  Ons ry 1600m boontoe.  Die hoogtse punt is J Toubkal – 4167 meter hoog.  By een van verskeie restaurantjies wys die eienaar vir ons sy huis (en sy ouers s’n), seker 200m onder ons in ‘n skilderagtige dorpie.  Die restaurante is baie mooi maar klein.  Daar eet ons ‘n berber omelet en mint tee.  Hy sê as sy mint opraak skree hy vir die familie onder hom om nog te bring.  Hy word so elke derde dag vervang met ‘n ander familielid.  Hoe hulle hom hoor weet ek nie, want die huis is so ver onder dat mens net-net mense sien.  Die landskap is vol kleure, groen bome, geel gras, modder (rooi en wit en geel) en gryse.  Die berge is indrukwekkend en die passe kronkel vir ewig.  Ons geniet die rit met al sy haarnaalddraaie.

 Marrakesh is vuil en lawaaierig met verskriklik baie mense, maar het ‘n ongelooflike “vibe”.  Ons slaap in ‘n hotel naby die hoofplein – die Jemaa el Fna.  Dit is seker so 250m x 250m met hope kunstenaars, baie eetplek en interessante chaos.

 Hier druk hulle lemoensap vir jou vars uit teen R3 per glas.  Ons eet by ‘n pragtige restaurant bekend vir sy kos op die oop dak – in styl.  Die eerste keer in 3 maande – tog ook lekker.