AFRIKA BRIEF 7

AFRIKA REIS : JOHAN & MARIANNE  (7) FINALE   –         31 JULIE 2010

 

 

Ons is tans op ‘n veerboot vanaf Ceuta (Afrika) na Algeciras in Spanje.  Afrika is besig om agter die horison weg te sak.  Met hierdie brief voltooi ons die Afrika toer.

Laas toe ek geskryf het, het ons die aand by Marrakech aangekom – ‘n stad (1½ miljoen mense) met baie fasette.  Ons raak geleidelik meer gewoond aan “bargaining”.  Die kuns is om ‘n baie lae prys te maak as antwoord op sy belaglike hoë prys en dan belangstelling te verloor in die produk – “gaan eers ‘n bietjie kyk of daar nie elders ‘n soortgelyke produk te koop is nie.”  Dit werk nogal goed, want dan val hulle vinnig, maar altyd kom hulle met ‘n nuwe truuk.

‘n Souk in Marakesh
Ons slaap die aand hier net verby die dorpie Telouet langs ‘n kabbelende watervoor onder die groot bome en stap smiddags op na hierdie verlate dorpie.

Welwetend dat ons eers ‘n prys moet vasmaak voordat ons ‘n foto neem of iets vra of te veel belangstel, beding ek ‘n prys om die waterverkoper af te neem.  Eers 10 Durham, toe kom ons ooreen op 5 Durham (±R5).  Die oomblik toe ek neem is ‘n tweede langs hom en die dring aan op ‘n verdere 10 Durham, want ek het nie met hom onderhandel nie, so nou is dit 15 Durham vir die foto – nodeloos om te sê, ek betaal toe maar 7 Durham en hulle laat my voel asof ek hulle indoen.  By die slangkunstenaars is daar ‘n slang om jou nek voordat jy weet wat gebeur en vat hulle die kamera en neem ‘n foto – orals is nou net slange en dromme om jou – nou eis hulle 200 Durham (R200).  Weereens is hulle goeie toneelspelers en is hewig ontsteld met wat ons bereid is om te gee – tog gewerk, want ons gee meer as wat ons wou.  Gou leer ons om te maak asof ons bang is vir die slange.  Verder leer ons ook baie vinnig om die verskeie kunstenaars te geniet en dan vinnig belangstelling te verloor as hulle na jou kyk.  Lemoensap vir 3 Durham (R3) vars uitgedruk – wat ‘n fees.  Ons leer gou wie verdun nie hul lemoensap en wie se kleingeld is reg.  Vir 10 Durham gee hulle byvoorbeeld ‘n 1 en 2 halwe as kleingeld in plaas van ‘n 5 en 2 x 1 Durhams.  Die verkoper sal nonchalant te min gee, ‘n kliënt anderkant bedien en as hy sien jy wag vir nog kleingeld maak hy asof hy die 5 Durham maar net elders moes kry.

Die aand is ons die enigste gaste en vra die jong gasvrou om ons af te neem. Sy stem in maar eers  moet ons  tradisionele klere aantrek.

Die winkeltjies se gange is indrukwekkend.  Vol lewe en baie besig met ook soms donkies en karweiers en motorfietse in baie nou gangetjies.  Die lewe op die plein begin eers hier weer teen 9 uur die aand en dan raak dit baie vol na siesta in die laatmiddag.  Teen ses uur stop die kosverkopers met hul sleepwaentjies en 2 uur later is daar ‘n uitgebreide netwerk van restaurante op die plein.  Elkeen met sy braaiers, banke, tafels en afdakke.  Die volgende oggend is hulle skoonveld en neem kulkunstenaars en Afrika entrepreneurs hul spasie in.  Die kinders bly op tot na middernag wanneer die plein vol Morokkaners is – omtrent geen toeriste hou tot die tyd van die nag nie.  Dit is steeds warm, so net onder 40°C, so laat in die nag.  Dit was vroeër die dag 45°C – selfs hulle het warm gekry.  (Ons sou later uitvind Zagora was 55°C).

Van Marrakesh oor die hoë Atlasberge na Telouet via die Tizi-n-Tichka-pas.  Dis ‘n baie klein dorpie weg van enige toeriste.  ‘n Arabiese gids keer ons voor en dring aan dat ons die plaaslike kasbah (kasteel) besoek.  Die kasbah het destyds ‘n bevolking van 1 000 mense gehad, 9 eeue na Christus en nou is dit leeg.  Gedeeltes het verval en word herstel – die twee ouer gedeeltes is te gevaarlik, maar die nuwer gedeelte beïndruk ons en saam geniet ons Morokkaanse mint tee na die besoek.  In die winter gaan ons gids terug na die woestyn met sy 35 kamele – terug na sy familie.

Ons slaap die aand onder groen bome langs die rivier met veelkleurige kranse om ons en ‘n verlate dorpie, gebou van modder, reg oorkant teen die kranse.  Dit is warm maar ‘n kanaal met water vloei langs ons tent verby.  Daar is geen teken van enige ander toeriste.  Die jong eienares gee ons ‘n aandete, tipies morokkaans, en toe ons haar vra om ‘n foto te neem, haal sy berber klere (kaftan met gedraaide tulband om op ons koppe te sit) uit en “dress” ons op vir die foto. Die “restaurant” is baie smaakvol met hope matte en lae tafeltjies.  By tye kry sy duidelik baie meer besoekers.

Die Draavallei is diep in die woestyn met baie landjies en dadelbome.  Die landerye word omhein met moddermure en oral is kanale vir vloedbesproeiing en nou gangetjies.  Dit bly vir ons ‘n verrassing hoe baie water daar in die woestyn beskikbaar is en hoe ‘n hoë bevolking langs die riviere bly.  Alle paaie in Morokko word op die kante van die valleie gebou sodat geen landjies onder die kanale verlore gaan nie.  Dit gee die effek dat die plantlose dor woestyn oorgaan na ‘n kanaal en daaronder geil groen bome, palms en landerye.  Ook hul dorpe word langs die kante van die valleie gebou.  Die vervoermiddel hier is donkies en mense.  Die vrouens is toe, skaam en is baie bang vir die onheil wat ons foto’s sou bring.  Ons respekteer hul gevoel, maar steel soms ‘n foto met ‘n lang lens as ons weet hulle sien ons nie.

 

Die ingang na ons hotel in Zagora

Ons bly twee nagte by Zagora terwyl ons motor gediens word en bly in twee pragtige hotelle met baie matte en morokkaanse kunswerke.  Ons is net voor die toeriste seisoen, maar hier is baie en goeie hotelle vir die toeriste wat nog moet kom.  By die hotel is dit 45°C, maar blykbaar was dit twee dae tevore 55°C – die dag wat ons in Marrakesh so warm gekry het.  Gelukkig het beide hotelle lugreëling en ‘n skoon groot swembad, tussen hoë palmbome – ons geniet die luukse.

Van hier na die einde van die beskawing, Mhamid, waar nog ‘n gids ons verder in die woestyn na die sandduine en ‘n oase neem.  Die gids laat ons terugdink aan die Touaregs in Mali wat nie sommer warm kry nie.  Die ryk Touaregs koop landcruisers en die eerste ding wat hulle doen is om die lugreëlaar te laat uithaal – hulle is nie sissies nie.  In Mali was Dave destyds bly dat hy ‘n nuwe Toyota lugreëlaar vir baie goedkoop kon kry.  Ons gids hier reken dis nie baie warm vandag nie, moontlik so 45°C.  Dit wys jou maar net alles is relatief.  Slaap die nag by ‘n boer wat ‘n kampeerbordjie op die pad het.  Om ons is sy lande onder water vanweë die vloedbesproeing.  Marianne slaap onder ‘n nat handoek en ek in die wind van my waaier wat in Kano gekoop het – made in China.

Ons soek die klein toeristevrye-paaie en ry met die Tizi-n-Tazazert-pas oor die Jbel Sarhro berge.  Die Jbel bergreeks lê tussen die hoë Atlasberge en die sahara.  Die pad word kleiner en ons avontuur groter en moeiliker.  Ons ry meer as twee ure aan 14 kilometer.  Omtrent alles in “low range tweede” terwyl ons 1500 meter klim tot amper 2300 meter (hoogste punt is 2712 meter).  Ons besef dat as iets nou sou breek ons in groot moeilikheid sou wees, want hier is nie ander voertuie nie en boonop sal dit nie moontlik wees om ‘n voertuig hier te sleep nie.  Die pas is ru en indrukwekkend met skerp draaie waar ek telkens eers moet terugstoot om om die draaie te kom.  Niks breek nie.

Aan die anderkant van die berge kry ons ‘n teerpad na die dorpie Ikriouin – wat ‘n verrassing.  Op die kaart lyk beide paaie identies.  Die paaie in Morokko is meestal goed met heelwat teer, maar is nooit reguit nie.  Soms sit hulle ‘n paar ekstra draaie in vir die “fun”.  Van ons toervriende sou gesê het “die baas was hier op lunch”.

Die Dades (Dadel) valley is indrukwekkend met styl passe en baie nou klowe met regop kranse (10 meter wyd op plekke) waar die pad deurskuur tesame met die rivier – Ons is weer op die toeriste weë en die atmosfeer is anders.  Hoër op die vallei raak die pad verlate en slaap ons in ‘n rivierloop langs ‘n hoë hol krans weg van mense, behalwe vir twee skaapwagters met hul skape en bokke teen die hange.  Heelnag hoor ons die geblêr – glad nie steurend nie.

Weereens oor die hoë Atlas via ‘n klein paadjie oor die Tizi-n-Ouano-pas.  Op ‘n stadium is ons bo saam met die ander pieke (± 2 800 meter bo seespieël – my skatting).  Die hoogtepunt hier is net skuins voor ons, effens hoër op 3 277 meter.  Ons ry heeldag tot ons die groter paaie kry en slaap by Azrou in die middel-Atlas berge, wat bestaan uit lae berge op ‘n hoë plato – gevolglik is dit ook ‘n ski-area in die winter.  Weereens is hier baie water ten spyte van die dorre landskap.  Azrou is bekend vir sy Sederwoude en ons ry agter ons neuse aan opsoek na die oorsprong van die Rbia (L’Oum-er-Rhia) rivier, die grootste rivier in Morokko – “big deal”, laat ons maar gaan kyk, dis net paar kilometer verder.

asdfghjkl;
asdfghjkl;
Marianne eet slakke in Chechaouen

Wat ‘n skouspel.  Die rivier kom met ‘n waterval af uit die berg (‘n fontein) met yskoue skoon water in ‘n diep kloof soos by ons eie Magaliesberge, maar hier stop enige ooreenkomste.  Die hoeveelheid water is enorm en bly jaardeur dieselfde.  Honderde Morokkaners swem, ontspan en eet in die kloof – oral is restaurante en stalletjies en omtrent geen toeriste.  Vir die eerste keer haal die Morokkane hul sluiers vir ons af – onbewus van die verraaiers in hul midde.  Ons drink tee op matte en kussings onder ‘n rietdak met die water wat verbydruis, net laer as die matte.  2 Meter oorkant is nog ‘n restaurant met sy eie kliënte, weereens net bo watervlak, en ondertoe hou dit net aan met restaurante.  Kos word op tradisionele manier op ‘n klein vuurtjie in ‘n potjie met ‘n deksel wat soos ‘n Lesotho-hoed lyk gemaak.  Die drinkgoed (let wel, geen bier) word in die yskoue bergwater koud gehou.  Die restaurante (nie die regte beskrywing, maar nou ja) is ingedruk tussen rotse en kranse – ‘n lushof vir enige fotograaf.  Ons eet ‘n forel (moet eers een uitwys in die tenk) met ons vingers op bruin papier met baie sout en natuurlik op pad af, ‘n paar glase lemoensap – vars uitgedruk terwyl ons wag.

Ons slaap die aand by Fes, nog ‘n baie ou stad (medina) van ± die 9de eeu na Christus en na Marrakesh die bekendste ou stad.  Ons kry die res van ons toergroep wat ons ‘n week en ‘n half gelede verlaat het die aand daar by die karavaanpark.  Dit is hul tweede nag daar en hulle kla dat die musiek en dromme die vorige nag aangehou het tot 06h00 die oggend, maar gelukkig is daar ‘n troue die aand.  Wel, die troue het half twaalf die aand begin toe ons terugkom van die medina – ‘n heel verskillende atmosfeer as Marrakesh.  Die troue met sy oorverdowende musiek hou toe aan tot na 6 uur die oggend en ons kon nie regtig slaap  nie.  Die Morokkaners in hul lang rokke kan “party” hou en dit natuurlik alles sonder alkohol.  Die ander verlaat ons en ons besoek die ou stad met ‘n gids wat my irriteer, maar tog heelwat uitwys soos pottebakkery, lokale broodbakkery, die leer looiery met sy oeroue manier van kleur en die huis van ‘n matverkoper en materiale.  Asook ‘n Islam univiersiteit en Moskee.

Die middag besluit ons een nag van musiek is genoeg en slaap die aand in ‘n dennebos uit die sig van die pad en mense net buite Meknes.  Die volgende oggend besoek ons Volubus (romeinse ruines) van 300 voor Christus met sy besondere mosaiekvloere.  Ongelooflik die luukse van die tyd.  Party huise 2400m2 met swembad, fonteine, verhittingstelsel en watersisteem.  Die stad was gebou om 2 strate met kollom fasades, winkeltjies en waterkanale.

Chefchaoen die blou dorp

Die volgende aand slaap ons by Chefchaouen in ‘n oulike karavaanpark tussen dennebome hoog bo die dorp.  Die dorp is bekend vir sy skilderagtige medina (ou stad) en vir sy blou mure en stadsmure.  Die dorp dateer uit ± 10 000 na Christus en lê hoog op teen die hange van die RIF berge (die middelandse see is net onderkant die berge).  Weereens het die dorp sy eie rivier wat bo in die dorp uitborrel en dan met kanale die dorp en baie landerye bedien – water is weereens die rede van hierdie dorp se ontstaan.

Die medina se straatjies is te nou en te steil vir voertuie.  Die dorp beïndruk ons so dat ons besluit om nog ‘n nag daar te slaap.  Hierdie keer op die sentrale plein in die middel van die medina.  (R300 vir ‘n kamer wat ‘n stort en WK en lugreëling insluit).  Ons kamer is uniek – krulle, boë, rooi ligte, geboude wasbak en stort – baie interessant totdat ek my kop in die middel van die kamer teen ‘n boog stamp.  Hier in die plein kos ‘n aand vir twee met hoofmaaltyd, poeding en ‘n hele paar vars vrugtesappe so R120.  Die tradisionele disse hier in Morokko is of hoender, skaap, bees met groente gaargemaak in hul tradisionele pot met driehoek deksel of duifpastei – (dit verklaar hoekom die voëls so menssku is).

Elke paar uur koop ek ‘n “benana”/melk-drankie en Marianne ‘n advokade/melk-drankie vir R5 elk, maar alle lekker kom tot ‘n einde om plek te maak vir ‘n nuwe ondervinding.  Ons besoek die khasbah (kasteel) en die medina, ‘n museum en die fontein heelbo in die dorp.

Ons ry na die middelandse see weereens met klein paaie en baie kronkels.  Die strande is swart vulkaniese sand met geen toeriste en geen vrouens.  Honderde Morokkaanse mans swem en oral is sambrele en tente op die strand – maar vuil – moontlik is die vrouens weggesteek in die tente.  Ons soek ‘n eetplek, maar kry uiteindelik een waar hulle sardiens op die stoep braai.  Ons eet die sardiens weereens op bruinpapier met ons hande en met baie sout.  Marianne sien die eerste vrou maar sy dra borde na die huis langsaan.  Ons kan bevestig dat daar ten minste een vrou op die middelandse see kus in Morokko is.  Inteenstelling sien ons die volgende dag, aan die atlantiese kus – vroue wat swem, maar met volle klere insluitend die sluier aan – wat ‘n belaglikheid.  Hierdie plek sal nie vir my werk nie, selfs al mag ek meer as een vrou hê.  Die strande hier is gewone kleur sand.

Ons slaap die aand by ‘n vuil karavaanpark, oorkant ‘n vuil grot (Grotte d’Hercules).  Marianne het die opsigter gaan aanspreek oor sy vuil geriewe.  Hy beduie dat sy haar verbeel want in ses jaar het niemand nog kom kla nie – kan jy indink ‘n “vrou” kla by hom!!!  Ek dink hy het baie simpatie met my met my westerse vrou – eich!

Die volgende dag na die vuurtoring by Cap Spartel, die noord westelike hoek van Afrika en van daar na Ceuta wat eintlik aan Spanje behoort – gevolglik is ons eers deur douane (vinnig hierdie keer) voordat ons wag en wag vir die veerboot.

Wes Afrika bly ‘n belewenis – die natuur is mooi, soms indrukwekkend, maar meestal vervelig, maar die mense is ‘n belewenis met een situasie wat ‘n ander opvolg.  Amper soos ‘n rolprent.  Van wild is hier min en voëls is bang vir die mense.  Ten slotte besef ons hoe “great” ons eie land is – van sy mense tot sy geweldige verskeidenheid natuur