DIE HONDE EN KATTE VAN TURKYE

DIE HONDE EN KATTE VAN TURKYE

 

In Istanbul is dit opvallend hoe baie honde en veral katte die strate patroller.  Mens sou verwag dat die katte maer en verskrik sou wees maar nie, nie hierdie katte nie.  Van die katte kom skuur teen jou been stert in die lug.  Dit blyk dat die Turke geneig is om vir die straatdiere te sorg en soms selfs vir die straatkatte ‘n kathuisie op te rig.

Ons eet aandete by ‘n restaurant en sit op die balkon. Onder ons is dit ‘n malhuis van bedrywighede, restaurant wat mekaar meeding vir klante, musikante, kinders, nuuskieriges en natuurlik die katte.  ‘n Gemmerkat sit langs een van die tafels en wag vir ‘n meevallertjie.  Die kelner sien hom en verjaag hom en maak nogal seker dat die kat behoorlik padgee.  Die kat gee flink pad tot net buite die kelner se sig, klim ‘n geut op, raak weg onder die dak en kom tevoorskyn bo en agter die kelner.  Rustig klim die kat af en gaan sit reg agter die kelner en wag weereens vir ‘n meevallertjie.  Die kelner kyk vir oulaas in die rigting waar die kat verdwyn het en gaan aan met bedien.  Hierdie love/hate verhoudings met die katte bly maar interessant.  Dit wil voorkom asof die katte Istanbul regeer.

In die sentrum van Bordrum geniet ons ‘n aandete by een van die restaurant en kry besoek van ‘n makat en haar kroos.  Dis duidelik dat die makat al ‘n gesoute restaurantkat is … hou haar afstand en maak haar teenwoordigheid subtiel bekend.  Die kleintjies daarenteen wil omtrent in ons borde klim.  Die makat loop weg en roep haar kroos maar tevergeefs.  Ons was verplig om hulle te verjaag.  Die jonges moet nog baie leer.

Die stad Van, langs die Van meer in die ooste, is bekend vir sy wollerige wit katte (die vancats) met bruin sterte en bruin kolle op hul koppe wat life is vir swem.  Hierdie katte is ‘n natuurlike katspesie met ‘n swaarder bolyf beenstruktuur wat hulle goeie swemmers maak, ‘n aktiwiteit wat hul geniet.  Hulle het blou of bruin oë of een van elk.  Self katte kan mens verras.

Die honde in die strate is vriendelik en vol vertroue en geniet aandag.  Die inwoners ken hul straathonde en bring gereeld vir hulle iets om tee et.  Elke hond het skyfie ingeplant in sy oor wat hom identifiseer en word jaarliks deur ‘n veearts ondersoek.  Is ‘n hondelewe regtig so sleg?