GOREME LUGBALONNE

GOREME VANUIT DIE LUG

 

Dit is ‘n halfuur voor sonsopkoms.  Ons is reeds een en ‘n half uur gelede by ons hotel opgetel en het reeds ‘n eenvoudige ontbyt met koffie benut.  Om ons is so 20 ander opgewonde toeriste wat toekyk hoe hierdie massa materiaal voor ons oopvou tot ‘n super grootte ballon.  Die gasvlam blaas warm lug in die ballon totdat dit die ballon vul en dit met die mandjie regop trek.  Om ons is nog 2 ballonne wat van ‘n donker grys na ‘n helder geel ballon verander wanneer die helder oranje vlam warm lug in die ballon inblaas – ‘n indrukwekkende gesig.  Ons klim almal in die mandjie en het tog genoeg spasie.

 

In die middel is die operateur met sy bottels hitte en weerskante die 4 kompartemente met so 5 passasiers elk.  Na ‘n oefening in noodlanding begin die ballon stadig opstyg.  Dit is doodstil totdat die gasvlam opgedraai word.  Om ons is oral ballonne in verskillende fases van gereed maak.  Ander is al hoog in die lug.  Sommige is donker balle wat elke nou en dan in ‘n helder ballonlamp verander wanneer die gasvlam geaktiveer word.  Wat ‘n gesig om omring te wees van 70 ander ballonne.  Ons beweeg oor klipsuile en verskeie landskappe.  Ons beweeg stadig want dit is redelik windstil.  Op ‘n stadium oor ‘n klein dorpie.  Die son steek sy kop uit en verander die ballonne na die weste in ‘n reënboog van kleure.  Ons beweeg oor die Faerie Chimneys, rotsuile wat 100meter hoog regop langs mekaar staan soos soldate met ‘n donker basalt kop.  Na die suide kyk ons oor Goreme met sy talle klipsuile waar honderde hotelkamers in die klip uitgekap is.

 

Ons operateur praat opgewonde oor die radio.  H yen die “groundcrew” prober voorspel waar hy gaan land.  Omdat die wind homselfnie laat voorskryf nie is dit op die grond ‘n jaagtog deur al die verskillende “groundcrews” om die landingsposisie te prober bepaal.  Hierdie crews (gewoonlik 5 om die ballon te vang) ry soos cowboys met hul 4×4’s en die groot ligte sleepwa agterna wat soos ‘n vlag agterna wapper – ‘n jong man se droom.  Ons is net te vinnig vir ons “groundcrew”, raak die grond, gee ‘n ligte hop en skuif oor die kant van die vallei.  Ons operateur uiter ‘n paar turkse woorde, draai die gasvlam weer oop en wag geduldig da tons begin styg tot by die volgende gelykte, sowat 200 meter weg.  Ons crew moet omdraai en jaag na die nuwe landingsplek maar dit is duidelik dat hulle dit nie gaan maak nie.  Ons raak ‘n paar vrugtebome en ploeg deur die land.  Ons operateur werk hard om soveel warm lug as moontlik uit te laat.  Hy ken sy storie en ons besef dat hierdie maar net nog ‘n dag van baie is en dat ons landing onder omstandighede eintlik goed was.  Die kuns natuurlik is om op die sleepwa te land – wat in hierdie wêreld van ballonne die toppunt van vernuf is.  Hierdie keer het ons operateur sy “bragging rights” prysgegee.  Toe ons crew uiteindelik opdaag kry die ballon weer hitte en word die mandjie vernuftig op die sleepwa gelaai en vasgemaak.  Nou eers mag ons afklim, die alkoholiese sjampanje geniet en ontvang ons sertifikate vir ons prestasie – waste prestasie weet ek nie – seker nie te hard gegil nie.  Wat ‘n ondervinding om tussen so baie balonne in die lug te wees met die pragtige rotssuile, valleie en dorpe as agtergrond.  Ons kameras het oortyd gewerk.  Heelwat armer (100Euro pp) maar baie gelukkig.