MADAGASKAR NUUSBRIEF 1

JOHAN EN MARIANNE SE TOER VAN NEGE WEKE DEUR MADAGASKAR

 

Masoala Nasionale Park. n Visserman se vangs vir die dag

Nuusbrief  No 1.

12 – 31 Mei 2012

Madagaskar is ‘n land vol verrassings. Eerstens is die eiland baie groter as wat ‘n mens dink – 1600 km lank en 600km breed – amper so 60% van SA. In die tyd van Godwanaland het Madagaskar saam met Suid Amerika, Antartika Australie en Indie losgebreek van Afrika. Die diere het later gevolg – heelwaarskynlik op drywende papyrus vanaf Afrika. Net die diere wat kon hiberneer het dit gemaak – 4 moederspesies LEMURS (aapagtig), TENRICS (langneus muisagtige diere wat soos krimpvarkies lyk), REPTIELE soos verkleurmannetjies en geitjies asook insekte. Gevolglik is daar ‘n rykdom van fauna en flora uniek tot Madagaskar.                  Masoala N P Vissermanne

ANTANANARIVO – Tana – die hoofstad het ‘n “vibrant” Franse kultuur maar is baie vervalle en plek-plek baie vuil. Sommer die eerste dag steel steel ‘n klomp klein, bedelende seuntjies – 8-12 jaariges my selfoon diep uit my broeksak! Die outjies het eers om Marianne gesirkel en daarna om my – hulle het baie irriterend hul pette teen my lyf  gestamp – veral my maag en gevra vir geld  –  ek het hul heeltyd hardhandig weggestamp (en amper skuldig gevoel). Tog kry die vinnige en ge-oefende hande onder die pette dit reg om my selfoon te steel. Let wel: Ek was herhaaldelik gewaarsku, maar het nie gedink dat die sakkerollers kinders is wat kamstig bedel nie!

Die stad is gebou oor verskeie styl koppies met baie interessante straatjies en mooi (maar vevalle) argitektuur. Die verkeer is chaos! Die stad lyk asof dit dateer van 40jaar gelede – baie interessant. Het ook 40jaar gelede ‘n verfkwas of herstel belewe.

MAROANSETRA

Masoala N. P. Amper elke insek of wurm hier is uniek tot Madagaskar

Ons vlieg hierheen – ‘n klein dorpie in die tropiese  Noord-ooste van die land. Die lughawe lyk soos ‘n plaasskool geboutjie langs ‘n oop veld. Ons word ingewag deur Arrol – eienaar van die Lodge en Josef wat ons eie gids vir die volgende 7 dae sal wees. Ons ry met ‘n stokou, vervalle taxi na die “hawetjie”. Daar kry ons ‘n motorboot wat ons (Johan, Marianne, Josef, ‘n kok en die bootman) na Nose (eiland) Mangabe neem – ‘n Nasionale Park waar ons die nag gaan kamp. In ‘n netjiese kampplek direk langs die see slaan Josef vir ons ‘n tent op onder  ‘n spesiaal geboude afdak uit hout en gras met wit sand as basis. Die ete geskied ook onder ‘n grasdakstruktuur. Ons het eers na 2nm daar aangekom en sommer dadelik gaan stap in die reënwoud – wat ‘n ongelooflik ervaring was dit nie! Aandete – die menu: Madagassy rys en shrimpkebabs (staal stokkies) en Johan se eerste kennismaking met Three Horse Beer THB – hy was dadelik ge-hook!.. Ons kry ook dadelik besoek van ons eerste lemur. Die aand sien ons verskeie nagdiertjies: muislemur, akkedisse, verkleurmannetjie en paddas.

Die volgende dag nadat ons eers weer gaan stap het en onder andere die feitlik onsigbare Leaf gecko en ‘n Boa slang gesien het, ry ons verder per boot na MASOALA Nasionale Park. Dis op ‘n skiereiland en paaie bestaan glad nie. Hier is die tropiese woude totaal ongeskonde – baie bergagtig met reuse bome, varings orgidee, mossoorte en swamme met oral sterk-vloeiende helder, skoon waterstrome. Dit is nogal baie bedompig en alles is klam. Ons verblyf is basies in die woud maar naby aan die see en bestaan uit houthuisies gebou uit natuurlike materiale. Ons huisie is ‘n dubbelverdieping met die keuse van 2 enkelbedjies onder of ‘n dubbelbed bo waar die muskietnette minder doeltreffend is. Ons het ons eie badkamer.

Die kleinste verkleurmannetjie un die wereld

Vir 5 dae het ons goeie weer en is ons volgens hulle baie gelukkig maar daarna reën dit vir 2 dae aanmekaar en nou is alles nog klammer, selfs die lense van die kameras wasem op. Die reënval is hier 5000mm pj. Wasgoed het met son so 3 dae geneem om droog te word. Josef neem ons elke oggend op ‘n staptog – ontdekkingsreis die Jungle in en doen baie moeite om vir ons goed te wys. Ons stap in die oggend lang ente (tot 5 ure). Hy kan voel en lemur geluide na-aap dat ‘n mens dit nie kan glo nie, so vind hy dan op ‘n stadium, nadat hy omtrent vir 8 minute verdwyn het, die kleinste verkleurmannetjie wat ‘n mens kan kry.  Hy wys na die grond en sê dat ons die verkleurmannetjie moet soek – maar ons sien hom nie…. hy sit naderhand sy vinger langs die verkleurmannetjie en steeds kry ons hom nie. Die verkleurmannetjie is so klein dat 4-6 van hulle op ‘n man se duimnael kan pas. In teenstelling daarmee kan die grotes voëls vang.

Om voëls te kyk is hier ‘n stadige proses en baie harde werk. Soms stap ons amper 2 ure sonder om ‘n voël te hoor of te sien – tog kry ons met sy hulp wonderlike fotos van sommige skaars woudvoëls. Ons het 2 keer nagstappe gehad en dit was ‘n avontuur op sy eie – amper ‘n eerie gevoel, baie warm en bedompig en goeie fotos. Met groot geduld sien ons 5 Lemur spesies waarvan 2 naglewend is, asook baie ander geitjies, paddas, bosmuise en verkleurmannetjies.  Die kos hier is baie basies, heeltemal organies en word baie smaaklik voorberei – groente, vrugte, seekos en die spil waarom dit alles draai – rys. Dit sluit natuurlik coke, bier en kondensmelk (wat hulle as melk by die koffie gebruik) uit. Ons geniet die geregte baie en het min sin vir vleis. Ons eet baie keer net rys en groente en dis yummie lekker.

Ons het ook vir ongeveer 2 ure gaan snorkel tussen die graniet rotse en dit was baie mooi. Daar is egter baie skade gedoen aan die korale deur die nette wat die lokale vissermanne gebruik (vis is ook ‘n stapelvoedsel.)

Ons verblyf in Masoala N P

Die lokale mense hier en in Maroansetra leef en werk met geen geriewe soos ons dit ken nie. Hulle bou byvoorbeeld sonder kruiwaens, gereedskap, spykers of enige ingevoerde boumateriale.  Hulle saag die groot houtstompe soms met ‘n basiese treksaag om planke te kry, maar vorm dit baie keer net met ‘n byl.  Hulle maak hulle eie hamers van hardehout. Vir hulle eie huisies en bruggies word die houte nog met sekere rankplante aanmekaar gebind. Hulle is besig om nog ‘n lodge te bou en die rooi klei word in plastiese sakke uitgedra en in die see gegooi. Klip word fyngekap en sand word in die klein stroompie gewas vir betonsand en dan gemeng met die minimum sement. Van die hout en ander benodigdhede soos kos word met die klein mokoros van die groter bote na die strand geneem en almal help om dit af te laai.

 

Ons vlieg terug na TANA die hoofstad en ons word afgehaal op die lughawe deur JEAN (ons sê sommer John) ons bestuurder, met ‘n ouerige 4×4 Nissan.  (Toe nie die nuwe Toyota soos die internet sê nie). Die voertuig moet effens agter by die deure verander word sodat ons fietse kan pas.

Tananarivo, hoofstad van Madagaskar

 

Die stad het ‘n Franse karakter

Ons rit begin Suidwaarts. Vanaf Tana ry ons deur Antsirabe, Ambrositra na die Ranomafana Nasionale Park (NP) teen die oostelike van die berge – weereens reënwoude. Die hooglande se natuurlike woude  (sentrale gedeelte van die land) is redelik gestroop en daar is nou baie bloekombome, dennebome en Tappiabome wat vir kookdoeleindes gebruik word. Hier is ongelooflik baie water en elke beskikbare stukkie grond word veral vir rys-paddies gebruik maar daar word ook baie groente gekweek. In Madagaskar word die meeste rys per kop in die wêreld geëet – 135kg per jaar per kop. (sommige eet 3 keer per dag rys). Rysverbouing is ‘n baie werkintensiewe proses. In baie van die klein “villages” word die rys uitgewaai in die wind en sommer so op die teerpad gedroog. Die meeste huisies in hierdie omgewing is reg-op dubbelverdieping huisies met regop dakke van modderstene gebou en al is hul nuut gebou lyk hulle stokoud en verwaarloos. Die eerste vloer is gemaak van houtbalke en soms bo-op afgewerk met modder. Hulle het ook klein balkonne maar alles is maar skeef en krom. In die stede word gebruik gemaak van betonblaaie – selde dikker as 100mm. Vir my voel dit asof alles op genade bo bly.

Ons slaap die eerste aand op Antsirabe. Dis ‘n besige stad met winkeltjies in elk beskikbare gaaitjie – al verkoop jy net 6 naartjies. Dis stok ou karre, taxi “brusse”, groot trokke, pouse-pouse en fietse vleg deur die hope voetgangers en selfs om die rys wat op die pad lê om droog te word. ‘n Pouse-pouse is soos ‘n eenvoudige rieksha wat deur ‘n Malgassy getrek word, ‘n baie belangrike vervoermiddel. Soms word gebruik vir die vervoer van ryssakke, houtskool en ander handelsware, maar meestal vervoer dit mense. Die hardlopende pouse-pouse trekkers is superfiks, klein en senerig gebou met stewige bene en arms en groot kuite – lyk na super langafstand atlete. Vet mense is baie skaars – almal is arm maar mense lyk baie gelukkig en orals is daar ‘n vrolikheid en gemoedelikheid. Die mense is baie hardwerkend, beleefd, goedgemanierd en baie vriendelik.  Almal leef direk van die lande af. Die groter dorpe is maar vuil, maar sommige van die kleiner dorpe is baie netjies en skoon. Die hoofpad na die suide is vol van waentjies, fietse, hoogelaaide taxis, beeste (zebus) en mense. Ek het 29 mense in een taxi getel – die laaste paar ouens moes deur die venster ingly om in te kom. Die troppe zebus word soms vir 400 km aangejaag na Tana.

Hulle is baie kerkvas en hou daarvan om op te dress vir kerk

Die meeste mense hier is christene en nogal kerkvas. Die kerke is oorvol – meestal vroue en kinders. Die kerkgangers is opgedollie met hul mooiste klere, formele pakke en die kinders in feetjie klere.

Hulle geniet dit om afgeneem te word. Ons besoek ‘n klein syweef fabriek (wilde en mak sy) Die kokonne word eers gekook en dan in garing getrek, gekleur en dan geweef. Die eindproduk is pragtig.

Die bedryf om klip fyn te kap vir betonklip en sand in die rivier te was is oral langs die pad sigbaar. Klein hopies sand of klip word dan opgekoop deur die bouers met bakkies, klein vragmotors of ‘n waentjie wat deur osse getrek word. Aangesien nie van pype gebruik gemaak word nie is daar ‘n interessante sisteem van kanale (soos aquaducts in die ou tyd) om die ryspaddies en groente lande (ook patats en mielies) van water te voorsien. Hierdie kanale loop al langs die kontoere en kruis droë rivierlope en soms klein stroompies.

Fassinerend om te sien hoe hulle regkry dat die kanale nie wegspoel as die riviere afkom nie.

‘n Tipiese dorpie in die hooglande–die sentrale plato

Ons kamp 2 nagte in ons eie tent in die Ranomafana NP saam met ‘n kok en ‘n gids  Jeankri – wat ‘n belewenis! Snags soek ons nagdiere en neem ons interessante fotos van muis- en sportive lemurs, verkleurmannetjies (hulle slaap dan), geitjies en spinnekoppe en sien selfs ‘n baie skaars “Madagascar striped civet cat”.

Ons kamp uit diep in die woude met ons eie gids en kok

Die eerste nag toe ek my sokkies uittrek sien ek 2 golfbal grootte bloedkolle op elke kous. (in die woude stap ons met langbroeke en stewels). Met nadere ondersoek vind ek 2 “leeches” op my enkels.  Hierdie is  bosluis-agtige, druppelvormige, beenlose bloedsuiers wat hulself kan verleng na 6x hul oorspronklike lengte en dan lyk hy soos ‘n erdwurm met ‘n dik-  en dun kant. Hy anker hom aan sy dik kant en die dun kant waai dan soos grasspriet in die lug opsoek na prooi en kan dan in ‘n breukdeel van ‘n sekonde hom verplaas na ‘n warmbloedige gedierte (dis nou ek).  Hy suig dan dadelik met die dun kant vas. Gelukkig kruip hulle nie onder die vel in nie en kan afgetrek word. Dit bloei dan nog baie daarna. Dis baie moeilik om hulle dood te maak en die beste manier was om hulle in twee te skeur. Die nag word ek wakker en besef dat my een neusgat is amper toe en word net toe-er. Ek maak Marianne wakker en sowaar – diep in my neus het ‘n leech homself tuisgemaak. Ek blaas en blaas my neus en dit bloei! Ek begin orals op my lyf leeches voel – gelukkig was dit net denkbeeldig! Die volgende oggend verseker Jeankri ons dat leeches geen negatiewe effek het nie en dat hulle soms vir infeksie-beheer gebruik word. In BRADT se toergids lees ek hoe iemand dieselfde ondervinding gehad het en dat die leech uiteindelik deur sy spysverteringstelsel is.

Toe my neus die volgende nag weereens toegaan besef ek dat ek die natuur rustig sy gang moet laat gaan en die volgende oggend was my neus sowaar oop. Ek wonder tot vandag toe nog wat die roete was wat die leech geneem het oppad uit. Die ergste van die ondervinding was die hele gedagte daaraan.  Ek sal enige tyd weer in die reënwoude kamp.

Andringita Nasionale Park

Andringita Nasionale Park

Van hier ry ons na die Andringita bergreeks. Hierdie het granietkoppe tot 1000m hoog en lyk nogal na ons Drakensberge met sy valleie. Ons kamp hoog op teen die hange teen die voet van die “Chameleon krans”.  Dis n groot graniet krans en bo-op lyk dit asof daar ‘n reuse verkleurmannetjie sit. Ons tent word weereens onder ‘n grasdakkie opgeslaan met die ongelooflikste uitsig oor die vallei en die reuse graniet kranse. ‘n Lokale vrou het ‘n paar baie oulike rondawels gebou en is besig om  ‘n “hotel” te ontwikkel met ‘n restaurant. Die badkamers is baie interessant met ongelooflike uitsigte. Saans maak sy vir ons kos wat ons voorsien – rys, groente en piesangs en ons eet heerlik. Die volgende oggend gaan stap ons met ‘n gids in die kloof op, maar hy is nog jonk in die tand en weet eintlik niks – tot Johan se groot frustrasie. Daarna ry Johan en Marianne met ons fietse die 20km terug na die teerpad. Ons ry met tye baie vinniger as ons drywer aangesien die pad so sleg is.

Isalo Nasionale Park.

Ons besoek die park. Ons ry deur redelike gelyke graslande (amper soos in die Vrystaat) en dan is daar skielik hierdie sandsteen bergreeks wat seker oor ‘n afstand van 40-50km strek met die interessanste formasies. Dit is ‘n kombinasie van die Sederberge en die Matoppos in Zimbabwe. Ons stap vir 4 ure na onder andere die Blou natuurlike swempoel en dan na ‘n waterval. Dit is nogal warm en droog en die plantegroei het heeltemal verander. Toe ons verder ry ontdek ons ‘n paar gevestigde goeie hotelle wat tussen hierdie eerie rotsformasies, weg van die pad gelee is. In retrospek moes ons eintlik daar een nag deurgebring het net om hierdie wonderlike rotsformasies te beleef. Johan ry verder fiets en ons is deur ‘n swerm groot sprinkane. Johan se een fietstrap het al die eerste dag gebreek en verskeie pogings om dit reg te maak het nie gewerk nie – so hy het ‘n metode gekry om met hierdie horreltrap te ry.

 

Zombitzi Nasionale Park.

Ons kamp in die Zombidzi N P en die een van die wildbewaarders bied aan om vir ons kos te maak. Jean, ons drywer, koop vars vis en groente in die volgende dorp.

 

Eet soos konings by Zombitzi.

Hierdie is ‘n unieke digte natuurlike droë woud, maar het ook sekere plantegroei van ‘n reënwoud omdat daar elke oggend ‘n digte miskombers oortrek. So kry ‘n mens dan kremetarte maar ook orgidee en ander sagter plante.  Ons kamp 2 nagte daar op ‘n pragtige plek onder ons grasdakkie en is die enigste mense. Die rede waarom  daar geen ander mense kamp nie is omdat daar geen water is nie.  Hulle kan egter vir jou water by die volgende village gaan haal en Jean gaan maak 2 drommetjies vol vir ons. Leucieu en Zaphy ons twee gidse wys vir ons ‘n wonderlike wêreld van diere- en voëllewe. Die woud vibreer van voëls. Die derde gids – ‘n jong vrou bied toe aan om vir ons te kook. Jean gaan koop die nodige in die village. Vis, groente en rys is op die spyskaart en ons geniet die organiese kosse. Hierdie woude wat saam so groot soos die Pretoria area is, is versprei in ‘n see van droeë graslande.  Soggens is die geroep van die Vasa pappegaaie en die Cockoo Rollers wat oorvlieg baie luiddrugtig en prominent en hulle het verskeie geluide wat hul maak. Ons gidse het geleer om al die geluide van die lemurs en voëls na te maak. Toe hy die uile roep is dit moeilik om te onderskei tussen die ware Jakob en hom. Ek het ‘n video gemaak daarvan. Dit het nie goeie fokus nie, maar die geluide is perfek. Op die gids se voorstel gaan ons vir ons nagstap. Ons stap om 4h00 die oggend deur die woud en sien lemurs en uile. Na die tyd het ons nog ‘n slaapie gevang.

Toliara – Tulear

Ons bly nou vir 3 nagte in ‘n redelike goeie hotel “Victory” in Tulear – ‘n besige en groter stad in die suide en gaan dan na die kusdorpie Ifaty, net noord van daar, om die Spiny Forest asook die Nose Ve eiland met sy duikmoontlikhede en Red Tailed Tropic birds se broeikolonies  te besoek.