MADAGASKAR NUUSBRIEF 2

JOHAN EN MARIANNE SE TOER VAN NEGE WEKE DEUR MADAGASKAR

Nuusbrief  No 2.

1 Junie – 17 Junie 2012

Laas toe ons geskryf het was ons in TULEAR aan die Weskus van Madagaskar, redelik vêr suid.

Ons “stick” onsself vir ‘n meer upmarket hotel – Hotel Victory en het ‘n lekker kamer.

Vroeg die oggend ry ons met ons eie fietse na Arboretum d’Antsokay.  Dit is ‘n Botaniese buin en Natuurpark waar ‘n Switzer ‘n groot verskeidenheid van die plantegroei in die suidelike gedeelte versamel en aangeplant het – 1000 endemiese spesies van die “Spiny Forest” is te siene oor ‘n are van 7 ha.  Die Spiny Forest is uniek en kom net in die droë harde suide voor.  Daar is ook heelwat voëls, maar dis koud en bewolk en ons sien nie so ‘n groot verskeidenheid nie.  Sien egter ons eerste Running Coua.

Die aand ry ons met ‘n pouse-pouse na ‘n Malgassiese Restaurant.  Dit is skoon en baie basies.  Ons betaal R75 vir 2 borde seekos-sop, gebraaide vis met rys, groente en slaai en elkeen twee keer nagereg plus … ‘n groot Three Horses Bier natuurlik!  Ons sit op die stoep op die besige hoofstraat met sy pouse-pouse, fietse, hoog oorlaaide taxi-bruisse honderde voetgangers en osse karretjies en sien geen ander Vahaza (witmense) nie. Soms kom ‘n motorfiets of motor deurgevleg, al toetende sodat plek gemaak kan word.

Toe ons terugkom by die hotel kan hulle nie verstaan hoekom ons nie ‘n taxi geneem het nie, maar ons verduidelik dat dit baie meer interessant is om deel te word van die locals op so ‘n manier.

Die vissermanne van St Augustine

Jean neem ons na St Augustine – mond van die Onilahy Rivier en ons kyk met verstomming hoe die vissersbootjies – Pirogues – terugkom met die vangs van die dag. Hulle lê vernuf aan die dag om deur die golwe tot op die strand te kom! (foto)  Hierdie dorpie is maar baie vuil en ruik na vis, die mense is egter vriendelik en hou baie daarvan om afgeneem te word.

Marianne op die strand voor ons hotel in Ifati

Net noord van Tulear is Ifaty. Dis ‘n vissers- en vakansiedorpie en ons bly twee nagte in ‘n hotelletjie, Volvotelo, in ‘n bungalo met sy tradisionele palmblaar dak. Ons bly letterlik op die strand (foto).  Op die strand is daar weer smouse.  Jy kan klere, houtwerk, sarongs ensovoorts daar koop. Van die klein restaurante op die strand is van palmtakke gebou en het ‘n seesandvloer.  Die strand is wit en skoon en orals lê daar pirogues opgetrek en die seile wapper in die wind.

Ons gaan dadelik na Park Mosa. Dis ‘n baie klein park met ‘n dig begroeide ‘Spiny Forest’- vetplantagtige bome en pragtige kremetarte. Hulle het 7 spesies Kremetarte in Madagaskar. Ons gids Moussa bring sy seun en skoonseun om te help om die skaars voëlspesies op te spoor. Moussa praat aanmekaar – ‘n vinnige knetterende manier soos ‘n masjiengeweer. Soms sag – moontlik om die gode aan te spoor om vir hom ‘n voël te wys maar meestal skree hy as hy met sy twee gidse kommunikeer wat elders in die woud is. Dis maar ‘n lawaaierige storie  met die drie wat so oor afstande vir mekaar skreeu en boonop kyk hy net so af en toe na die bome vir voëls en stap vinnig – ons is maar baie skepties of vandag se poging enigsins iets gaan oplewer. Wonder bo wonder sien ons heelwat voëls en Johan kry goeie fotos.

Die  Long-tailed Groundroller wat deur die gidse vir ons aangekeer is

Op ‘n stadium se Moussa vir ons dat ons net daar moet wag en die “team” raak seker vir ‘n half-uur weg. Ons wonder naderhand of hulle gaan eet het? Dan keer Moussa terug en sê dat ons hom moet volg. Ons stap seker 2km vinnig  (naderhand buite die park) sonder om te stop. Skielik stop hy en verskyn sy helpers. Hulle kyk intensief rond en — skielik— daar is die skaars “Long-tailed Groundroller” met sy pragtige turkoise kleur op die vlerk! Ek en Marianne sien met moeite die voël op die grond raak deur die digte takke. Die drie gidse maak ‘n sirkel en keer die voël letterlik aan in ons rigting. Dan sien ons hom behoorlik-‘n groterige voël! Ek moes letterlik op my maag lê om goeie fotos van hom te kry. (foto)  Ons het op ‘n soortgelyke eienaardige  manier van die ander endemiese en skaars voëlsoorte van Ifaty gesien soos: Subdessert Scrub-robbin, Sickle billed-, Chabberts- en Lafresnayes Vangas, Crested en Running Couas en Subdessert Mesite. Dis duidelik dat elke gids sy eie unieke manier het om voëls en ander diere en insekte te vind en snaaks genoeg is almal van hulle suksesvol. Ek en Marianne het hoeveelkeer net ons koppe geskud in verwondering oor hoe hulle alles raaksien.

Ons ry vroeg die volgene oggend terug  na Tulear en besoek nog gou die universiteit se Marine Museum met nie minder as sewe Coelacanth voorbeelde – die oorgang van vis na dier met sy vinne as bene. Interessant ook om sy skelet te sien en te leer dat hulle geboorte gee aan vissies. Die uitstalling is goed en die student gids neem ons met groot entoesiasme deur.

Met hierdie Zebokarretjie neem hulle ons na die boot wat in dieper water geanker is

Daarna neem Jean ons na die hawe om per boot suid na Anacoa, sowat 30km suid van Tulear, te vaar. Dit is ‘n gewoel en gelaaiery en die zebokarretjies staan in tou om ware na die wagtende bootjies te neem. Ons motorbootjie lê daar doer vêr in die see, in die getyvlakte.  Saam met twee Franse natuurbewaarders van Reunion word ons op ‘n zebu karretjie (osse) vervoer tot by die boot .  Naderhand loop hulle in die vlak water wat net dieper word en van die osse raak skoon paniekerig. Ons wonder of ons bagasie gaan nat word. Ons bagasie word in die motorboot gelaai en word darem met ‘n plastiese seil toegemaak want die wind waai sterk en die see is nogal rof.  Die rit is koud en baie nat en souterig!  Nadat ons al ‘n hele rukkie gery het, gaan staan die enjin ‘n paar keer en die bootman kry dit aan die gang – maar dan gaan staan dit heeltemal. Die bootman haal die vonkprop uit en krap die die punt skoon met sy vismes. Om die vonkprop skoon te kry trek hy die brandstofpypie uit die enjin en was die prop met die petrol af. Na drie maal se was is hy gelukkig. Ons hou asem op, die see is rof – die land is vêr, die bootjie is klein en onder op die bodem dryf ‘n petrollagie en al ons bagasie is op die boot. Duidelik is die bootman min gepla en hy kry die enjin aan die gang – is dit sy daaglikse roetine wonder ons almal?

Ons arriveer een en ‘n half uur later in Anacoa – dankbaar dat ons dit gemaak het. Ook dankbaar dat ons nie soos Jean (ons bestuurder) een en ‘n half dae moet ry om by Anacoa uit te kom nie (Hy moet naamlik ‘n 250km ompad ry om oor die rivier te kom). Omdat dit laagwater is moet ons 50 meter van die strand afklim nadat ons deur die koraalriwwe moes vleg. Ons stap met ons bagasie deur die vlak water na die strand en vandaar na ons hotelletjie Peter Pan Auberge, geleë in die vissersdorpie Anacoa.  Die strand is ook sommer die die hoofstraat en al die aktiviteite van die locals gebeur hier. Daar is ook smouse en klein ‘local’ eetplekke. So oortuig ‘n local ons dat ons die aand by hom moet vis eet. Ons gaan eet toe en op ou einde is sy prys heeltemal anders as wat hy vir ons kwoteer het – natuurlik baie meer. Ons stry hom af na sy oorspronklike prys. Die kos was goed maar amper een van die die duurstes.

Met laagwater is omtrent die hele dorp se inwoners op die rotse en riwwe in die vlak water, ma’s om kos te versamel en die kinders om te help, maar die speel is eintlik hul ding. Die see is vol wit seile. Die pa’s is al vroeg oggend uit op hul bootjies (dow’s) om te gaan visvang en kom een-een terug met hul vangste – almal help om die bote op die strand uit te trek en te kyk wat die dag se opbrengs is.  Daar is ‘n vrolikheid in die lug! Van die pa’s maak nette reg.

Anacoa. Die strand is die hoofstraat

Dit is springgety en daar is ‘n vyf tot ses meter hoogteverskil tussen hoog- en laagwater.  Laatmiddag is dit ‘n geskarrel om die bote hoog genoeg opgetrek te kry, want die see is ekstra hoog na die sterk wind vroëer die dag.  Van die dows word opgetel en aan pale, wat die vissermanne in die sand geplant het, vasgebind sodat die see onderdeur kan spoel. Die golwe spoel tot by die van die huisies.

Ons bly die volgende twee dae by Dario, die skewe Italiaanse eienaar van Peter Pan. Ons bly weer in ‘n basiese bungalo op die pragtige wit strand – wat ‘n voorreg!  Daar is geen vars water nie en ons stort en was ons hare in die souterige water.  Ons klere kry sulke wit soutvlekke. In die dorpie is daar is nie elektrisiteit nie en daarom is die seekosse altyd vars. Die vis wat nie geëet word nie, word dieselfde dag nog ingesout. Gelukkig dat Dario ‘n windlaaier het wat sy batterye laai vir ‘n flou liggie in ons bungalow – om te lees gebruik ons maar ons flitse.  Dario se kos is heerlik en ons eet net vis en kreef.

Die volgende dag besoek ons die eiland Nosy Ve (nie die bekende Nosy Be aan noordekant van Madagaskar nie) met sy broeiende skaars “red-tailed tropic birds” (foto) en dit laat ons terugdink aan Bird Island in die Seychelles. Dan gaan ons snorkel maar die seelewe is baie teleurstellend aangesien die vissermanne en die lokale duikers die riwwe vernietig het met hul nette. Die vissermanne in die suide is eintlik nomades wat normaalweg trek as die visse uitgevang is, maar hier het die toerismebedryf (Jul-Sept) veroorsaak dat hulle gebly het en gevolglik minder vis vang. Tog is dit vir Marianne ‘n fees, want daar is skulpe vir Afrika!  Die verskeidenheid en die hoeveelheid skulpe verras ons.

Laatmiddag stap ons na ‘n luukse hotel geleë langs ‘n pragtige strand so 3km buite die dorp. Dit is smaakvol uitgelê, maar hier kry mens nie die wonderlike ‘vibe’ van die vissersdorpie nie en is dit boonop baie duur. Ook hier is daar geen toeriste  nie – te vroeg in die seisoen.

Thsimanapetsotsa Nasionale Park

Hiervandaan vertrek ons na Tsimanampetsotsa Nasionale Park met ‘n sanderige tweespoor paadjie. Dit is ‘n soutmeer wat ‘n paar kilometer van die see af is, maar ondergronds met die see verbind is. Dit het kalksteen formasies met baie grotte en selfs ‘n paar sinkgate. Die rotse het ‘n baie interessante tekstuur met skerp kante en baie gate. Ons kamp vir twee nagte met ons gids, ‘n kok en Jean, die motorbestuurder. Dis ‘n pragtige kampplek onder groot bome. In die grotte is daar vars water en die gids wys ons die “blinde visse”. ‘n Spierwit vissie wat omdat dit donker is in die grotte, aangepas het en ‘n sensor stelsel ontwikkel het om kos te kry (algea meestal) en dus nie meer oë het nie. Saans kry ons besoek van die “Grandidier Mongooses”, wat endemies is aan diepark.  Hulle is pragtig, maar gou kom ons agter dat hulle alles stukkend kou- selfs petrolkanne op die dak van die kar bly in die slag, asook ons waterkanne. Die volgende aand was vir die mongoose ‘n groot teleurstelling, want ons het letterlik alles weggepak!

Die soutmeer is nooit dieper as 2 meter en het ‘n pragtige blou na turkoise kleur – afhangend van hoe die son daarop skyn.  Daar is baie groot- en klein flaminke.

Ons stap al die stap roetes saam met Franscesco, ons gids, en geniet veral die pragtige kremetarte (twee spesies) en die ongelooflike rotsformasies met die interessantste metaalklanke as jy daarop loop. Elke boabab lyk soos ’n karaktertjie op sy eie – dis asof hulle in ‘n sprokiesverhaal behoort. Die oudste Boabab noem hulle die Ouma en is oor die 3000 jaar oud (foto). Sy is vol plooie en knoppe. Van die Spine bome (Pachipodium) is net so interessant. Wat ‘n mens nogal beïndruk is dat al die gidse wat ons gehad het die latynse name van die plante, reptiele en voëls net so aframmel.

Steeds ry ons suidwaarts langs die see verby klein visserdorpies tot by Itampalo – uit die hemel uit en nog mooier as Anacoa. Jean ken almal en eintlik is almal ‘n deel van sy familie en hy neem ons na Chez Nanni, net so aan die rand van die visserdorpie. Die oranje geverfde hout pophuisies (foto) staan heeltemal alleen op die mooiste wit sand – sprokiesmooi!  Weereens baie basies en eenvoudig maar skoon en genoeg water vir stort. Ons is nou al gewoond aan Madagaskar se storte- ‘n emmer met koue water en ‘n skepbeker om die water oor jou te gooi, agter ‘n afskorting. Marianne vra meestal vir ‘n emmer warm water om so warm te “stort”. Ons het so teen middagete daar aangekom – die vrou berei kos vir ons voor – vis en rys en slaai, te lekker! Ons bestel ook sommer aandete en die kos word voorberei in ‘n ou stoof wat al lankal nie meer werk nie – maar met kole waar die elemente moet wees en sommer kole in die oond ook – en dit werk! Sy bak vir ons vars brood in die oond.

Vars water borrel op die strand uit by Itampolo

Laatmiddag op die strand beleef ons ‘n asemrowende sonsondergang op die spierwit strand met donker wolke as agtergrond. Later verkeur alles na goud…Die aand bestel ons bier en ons wag geduldig, want die eienaar stap eers dorp toe om koue bier te gaan koop terwyl ons kyk hoe Holland teen Denemarke speel (eerste keer weer TV). Ons eet aandete soos konings! Saans lees ons weereens met ons flitse, want die kragopwekkers hou meestal net ‘n flou liggie aan die gang.  Meestal is daar net elektriseteit van so 6-9 uur die aand.

Itampolo
Ons bly op die strand

Van Itampalo ry ons tot by Ejeda (so 77km oos – in die binneland) en dit neem ons letterlik die hele dag om daar te kom. Ek en Marianne ry fiets en wag vir die voertuig wat stadig oor die rotsplate en soms diep sand en dongas aanploeter.

By Ejeda bly ons by Jean se baas se vrou se ouers wat volgens Jean ‘n baie welgestelde en gesiene man in die omgewing is (status is vir Jean baie belangrik). Hulle het ‘n klein algemene winkeltije voor op die straat en hul huis is agter in die werf.

Ons word saans getrakteer op vis, kalamarie, hoender en zebo (bees). Die vis (50kg daarvan) word elke tweede dag van Itampalo per motorfiets oor die slegte paaie aangery deur ‘n jong entrepeneur en dan verkoop aan die wat dit kan bekostig.

Ons word onthaal by Jean se vriende. Jean staan in die middel

 

Die eienaar maak verskoning dat hulle nie nagereg het nie, maar daar is ongelukkig nie piesangs of ananas te koop in Ejeda nie.

Dit is duidelik dat Jean baie trots is op sy konneksie – maar wat ‘n kontras is daar op hul werf! Die kos word agter die winkeltjie op ‘n hele paar klein houtskoolstofies op die grond deur twee vrouens voorberei. Ons eet in hulle deftige eetkamer met sy wit teel vloere – die hele familie eet saam. Dis ‘n redelike “deftige” geboude huis in hulle terme. Ons slaapkamer is super netjies met wit teels maar die stoep loop uit op ‘n vuil werf. Op die werf waag ons dit nie om kaalvoet te loop nie! Die stort en toilet is buite op die werf en is baie basies. Die stort het ‘n uitloop op die werf deur ‘n gat in die muur en die toilet is maar grillerig- ‘n longdrop.

Hulle gebruik sonkrag vir die eerste uur en daarna ‘n een kilowatt generator. Toe Marianne haar hare wil droogblaas skop die ligte uit.  Sy groot lorrie staan die hele werf vol. Hulle seun studeer in Tananarivo, maar is tans tuis aangesien daar onluste is en die universiteit gesluit het.  Die ouer dogter werk saam met haar ma in die winkel. Die kinders is netjies en smaakvol aangetrek. Dus – ons slaap lekker in ons netjiese kamer, maar gril as ons ‘n draai moet loop – wat ‘n kontras.

Spiny landskap
Footed sportive lemur

Die volgende dag in Beloha bly ons in ’n baie eenvoudige turkois houthuisie . Dis egter skoon en gesellig. Die eienaar maak vir ons die heerlikste kos en ons eet in haar pragtige klein restaurant ‘Restaurant Oliv’ met sy netjiese gordyne, kraakwit tafeldoek en tradisionele musiek in die agtergrond. Wat ‘n kontras teen die vorige aand! Ons verblyf en aandete (en ‘n groot bier) kos slegs R45 vir beide van ons.  Die eienaar is duidelik tog, wat Malgassiese standaarde aan betref, welgesteld. ‘n Land van kontraste….

Die pad bly steeds sleg en ons moet nog ‘n nag oorbly by Ambovombe in ‘n minder goeie hotel voordat ons by Berenty Nasionale Park kan uitkom. Ons ry weer ’n lekker lang ent fiets sonder dat die bestuurder vir ons hoef te wag.  Die landskap is nog hard en droog. Ons het in 4 volle dae slegs 420km gery weens die swak en stadige pad – darem lekker geleenthede gekry om fiets te ry.

Die landskap is semi-woestyn met heelwat doringagtige plantegroei. Dit is skrikwekkend hoe die gewone turksvye en die sisal alles oorgeneem het.  Dit is oorspronklik aangeplant vir heinings.

Die eentonigheid word soms verbreek deur ‘n groep boababs of kompasbome (wie se toppunt ALTYD suid wys.)

Johan in Berenty park

Berenty is bekend as ‘n toeriste oord met goeie huisvesting en ‘n breëblaar droeë woud en ook bekend vir sy lemurs en voëls. Ons bly in ‘n gerieflike huisie. Ons sien 5 spesies LEMURS – die dansende Verreaux Sifaka (foto), oulike mak ringtailed lemurs , white faced brown lemurs, white footed sportive lemurs wat bedags in hol boomstompe sit en vir jou loer (en goeie foto geleenthede gee) (foto) asook die grey mouse lemurs. Saans gaan ons vir ‘n nagstap en sien die groot fox-vlermuise, uile, verkleurmannetjie en die piepklein grey mouse lemur en naguiltjies.

Fort Dauphin (Taolagnaro) is aan die Suid-oostelke punt van Madagaskar en aan die reënkant van die pragtige berge en is dus sub-tropies. Ons slaap vir 2 nagte in’n heelwat luukser en baie oulike hotel op die see en geniet die geriewe. Ons beplan om Fort Dauphin die volgende dag op ons fietse te gaan verken, maar dit reën aanmekaar.  Jean neem ons vir ‘n draai deur die stad.  Dit is geleë op ‘n skiereiland en het aan 3 kante see. Baie mooi, maar baie verwaarloos. Die Amerikaners het egter ‘n Titanium myn daar en is besig om die infra-struktuur te begin herstel, hul mikpunt 2020.

Die nuus is dat daar swaar en aanhoudende reën geval het aan die noord-oostelike gedeeltes waarheen ons nou gaan ry.  Beide Jean en sy baas is baie bekommerd dat die watervlakke waardeur ons moet ry te hoog is en dat ons nie deur die dik modder gaan kom nie. Op hierdie stadium werk al 10 ferries waar ons moet oor.  Mia, die gids vir ‘n Franse egpaar en Jean besluit dat ons die eerste 2 dae moet saamry – die eerste dag die diep waterpoele en riviertjies en die tweede dag deur die diep modder.

Dansende Sifakas in Berenty

Die eerste 15km ry ons deur digte reenwoude en interessante klein dorpies. Dan begin die “sports”! Die volgende 70km ry ons deur een na die ander watergate en omdat die pad so sleg is weet jy nie of daar nog ‘n gat in die watergat is nie. Ons ry deur honderde gate – Johan se oordrewe skatting is meer as ‘n duisend watergate.

Ons ry deur seker honderd poele op pad na Manakara

‘n Mens kan sien dat dit ongewoon baie gereën het en die water staan oral . Van die gate is tot 900mm diep (foto) waardeur ons moet ry en ons beleef  ‘n paar benoude oomblikke.  Ons moet oppad na die noorde oor 10 riviere met veerbote (ferries) gaan waarvan die eerste 4 met katrolsisteme werk waar die tou met ‘n slinger gedraai word. By die tweede oorgang is die veerboot aan die oorkant en die bootman is hard besig om te katrol sonder dat die boot enigsins beweeg. Toe merk ons dat die tou gebreek het en dat die tou stroomaf dryf.  ‘n Hele proses volg om ‘n mokoro te kry om die tou te gaan haal, stroomaf  en dan weer die tou aan ons kant te haal en om dan weer vinnig na die middel te roei om die twee toue te las. Ons is almal maar bekommerd want die tou is heeltemal fodde en is al ‘n hele paar keer gelas, maar ons kom tog veilig aan die anderkant uit en ry voort.

Saans slaap ons in ‘n baie eenvoudige A-raam huisie en eet by die “lokale” restaurant waar Mama Madagaskar vir ons ‘n heerlike ete van vis en rys en aartappels voorberei. Ons eet gesellig om die sitkamer tafel by ‘n flou kersie. Die afstand wat ons vandag in 9 ure afgelê het was 110km.

Ons is baie vroeg op, kry nog koffie en ryskoekies en pak die volgende stuk aan wat blykbaar gister drie  4×4’s so laat vassit het dat hul net daar en dan moes oorslaap in die ‘modderbed’.  Die eerste gedeelte se pad is nie te sleg nie en die landskap met palms en golwende grasland bulte – laat ons aan die Transkei dink. Die pad  is hier sonder die watergate en het soms weer erge klipplate en los klippe.

Die res van die ferries het groot dieselmotors en moet ons ‘n coke bottel vol diesel gee en ‘n “fooitjie” aan die bootman gee.  Gelukkig ken ons bestuurders al hoe hierdie “sisteem” werk en het gesorg dat hulle diesel het . Dan skielik is die modder daar. Menige kere is ons eenvoudig oortuig dat ons gaan vassit, maar Jean ken van modderbestuur en hy kry ons deur. Ons kan sien dat hy maar op sy senuwees is. Ons sien  waar die ander toeriste gister vasgesit het – wat ‘n gemors!  Net een maal gly ons sleg in ‘n sloot aan die kant van die pad, maar die motor beur deur. Die natuurskoon is pragtig met baie riviere, maar gelukkig is daar nou brue oor die riviere wat smaller as 50m is. Ook die dorpies is baie mooi. Meer noord by Vangaindrano begin die teerpad met reuse enkelbaan brue oor die groot riviere. Ons is oor ongeveer 8 groot riviere tussen 100 en 300m breed waarvan 5 met veerbote was.

Ons ry oor 11 ferries

As ons maar so ‘n paar van hierdie riviere in Suid Afrika gehad het! By die laaste veerboot groet ons die Franse egpaar, want hulle moet in Manakara kom vir die treinrit – ‘n lang dag vir hulle. Ons ry rustig voort tot by Vangaindrano waar die teerpad begin. Die volgende 90km is goeie teerpad en ons slaap by Farafangana in ‘n bungalo direk op die see. Die  aand is ons weer die enigste gaste in hotel Coco Beach. Van die sowat 8 hotelle in die Bratt gids is daar net nog twee oop. Die politieke onstabiliteit vanaf 2009 het die land groot skade aangedoen – dis baie duidelik dat daar baie minder toeriste is.

Die volgende oggend verken ons die hele dorp op ons fietse – die mense is baie vriendelik. Later ry ons verder na Manakara, ‘n dorp aan die ooskus met ‘n munisipaliteit wat funksioneer en nie aan korrupsie ly soos al die ander dorpe en stede nie.  Hier is water en krag en teerpaaie.  Dis lekker om weer ‘n slag 24 uur krag te hê. Marianne tik op die rekenaar en Johan sorteer die fotos . Ons bly 2 dae in ‘n hotel met weereens bungalo’s op die see – net ‘n paar dennebome tussen ons en die see. Die see is rooibruin van die groot riviere se vloedwater. Ons kry ons finale kans om fiets te ry, maar reën nat.  Die weer bly onvoorspelbaar – een oomblik reën dit en die volgende oomblik skyn die son. Die aand sien ons die pragtigste sonsondergang deur deur die bome oor die see met ‘n helder reënboog vanaf ons bungalo. Ons vertrek die 20ste per trein na Fianaranrsoa met baie drama maar hieroor skryf ons in ons finale nuusbrief.

Groete Johan en Marianne