MADAGASKAR NUUSBRIEF 3

JOHAN EN MARIANNE SE TOER VAN NEGE WEKE DEUR MADAGASKAR

Nuusbrief  No 3.

18 Junie – 13 Julie 2012

Ons is in Manakara aan die ooskus van Madagaskar en ry per trein na Fianarantsoa (Fiana).  ‘n Rit van 163km oor 67 brûe en deur 48 tonnels.  Jean, ons motorbestuurder, ry die heelwat langer ompad om ons bo-op die hoogland by Fiana te ontmoet.  Die rit behoort 8 – 10 ure te duur, maar dit neem ons 24 uur.  ‘n Rit vol avontuur en drama (sien ons detail beskrywing: TREINRIT.)

Ons reis in 2 dae na Tananarivo (Tana) waar ons weereens in die ou gerestaureerde 4 ster hotel Le Pavillon de l’Emyrne bly.  Die hotel is persoonlik en pragtig met antieke meubels en skilderye.  Dis lekker om so in luukse te bly nadat ons vir 6 weke baie eenvoudiger gebly het.

Ons kry Jana, Saterdag 23 Junie en reis per voertuig na Ankarafantsika Nasionale Park naby die stad Mahajanga aan die noord-weskus.  Jana geniet die andersheid van Madagaskar asook die kamp in die park.  Ons bly in ons eie tent en huur ‘n tweede vir Jana.  ‘n Vrou van die plaaslike dorpie maak vir ons heerlike tipiese Malgasiese ete.  Met ‘n plaaslike gids sien ons in die droë woude (meestal bladwisselende bome) verskeie van die unieke voëls, plante en diere.

Verkleurmannetjie

Die sifaka lemurs met hul lang wit lywe, die naglewende sportif lemurs wat bedags in gate in bome slaap en uitloer asook ‘n spinytail iguana beïndruk ons.  Later die dag ry ons na ‘n dam om die Madagaskar langtoon te sien.  Ons is nie suksesvol nie, maar stop op pad terug om terloops by ‘n stuk water te kyk en sowaar, daar is die langtoon.

Die aand stap ons deur die klein dorpie langs die Nasionale Park en geniet die vibe.  Dit het ‘n paar staatligte en gevolglik kom die hele gemeenskap by die enigste straat bymekaar wat ook terloops die nasionale pad is.  Die gemeenskap het ‘n TV op ‘n paal vasgemaak waar party TV kyk  – Europese sokker.  Kinders speel, ouers kuier, kook of koop kos.  Almal is besig en lag en is vriendelik. Daarna in die bos sien ons mouse lemurs en verkleurmannetjies.

Die volgende oggend ry ons op ‘n boot op die Ravelobe meer en sien die Madagaskar visarend en swerms watervoëls.  Die meer is omring deur woude.

Lodge Terre Blanches

Ons volgende bestemming is Lodge Terre Blanches sowat 100km noord van Mahajanga.  Om daar te kom vleig ons met ‘n 4 sitplek gehuurde vliegtuig vanaf Mahajanga.  Op pad na Mahajanga het die brug oor ‘n kleinerige riviertjie gebreek en staan die voertuie in lang rye opgehoop weerskante van die rivier.  Ons stap na die anderkant en begin onderhandel vir vervoer na die lughawe.  ‘n Paneelstasiewa is bereid om ons te neem en jaag na die lughawe.  Jean, ons bestuurder, het 3 dae gewag dat ‘n nuwe staal brug oor die bestaande een gebou word, voordat hy Mahajanga kon bereik.

Marianne en Jana by die grotte naby Lodge Terre Blanche

 

Ons kom 15minute laat by die lughawe aan en vlieg kuslangs na die Lodge waar die aanloopbaan teen die duin tussen die lodge se chalets begin en dan afdaal tot in ‘n laagte en dan weer anderkant op.  Die vlug is baie interessant en die landing ‘n ondervinding.  Ons bly 3 nagte en geniet die gasvryheid, strande en sifaka lemurs wat voor ons chalet kuier .

Siflaka voor ons hut

Per boot besoek ons Tsingy tipe (erg geërodeerde kranse met interessante vorms) strande asook tradisionele grafte.  Die grafte is deur die siklone oopgespoel (foto).  Die lokale mense het allerlei fadi’s (bygelowe) en een daarvan is dat na ‘n tydperk van een jaar hulle weer die dooies opgrawe en hulle beendere was en dan in ‘n hout kis plaas en by die reeds gestorwe familielede in ‘n grot plaas.  Die ingang word dan toegebou en mag nie deur die lewende oopgemaak word nie, tensy nog ‘n familielid begrawe word.  Na die sikloon lê van hierdie kiste oop nadat die muur voor die grotte weggespoel het en mag niemand dit verwyder of weer herstel nie.  Van die oopgespoelde grafgrotte is nie eers bekend aan die lokale hoofde nie en is weggesteek in die middel van die kranse.  Navorsing het getoon dat die graf 600 jaar oud is.  Die lodge is naby ‘n rivier met ‘n enorme lagune wat veroorsaak dat die water in die mond, wat 15km breed is, baie sterk vloei tussen getye en as die wind in ‘n sekere rigting waai, groot golwe veroorsaak.  Ons bootrit terug word gevolglik vervang met ‘n vlug terug na Mahajanga met die buurman se vliegtuig.  Hy is bekommerd dat ons te swaar is vir sy vliegtuig en wil dringend vlieg want die wind is sterk van voor en hy het dit nodig om ons in die lug te kry.  Dit is nie die soort boodskap wat ons wou gehad het nie, maar ons is darem hier om die storie te vertel.  Wat ‘n stokou Uno op die pad is, is hierdie vliegtuig in die lug.  Selfs die kajuit se kap wat van ager oor ons koppe getrek word, los ‘n 50mm opening wat darem vir baie vars lug sorg.  Ons vlieg laag en waggelend reguit na die aanloopbaan wat dwars voor ons lê.  Die laaste oomblik maak hy ‘n 90° draai en land oor ‘n baie kort afstand en ry sommer reguit in die “hanger” in.  Jean, ons drywer, het daarin geslaag om oor die gebreekte brug te kom en wag vir ons.  Ons ry tot middernag terug na Tana en slaap ons die aand by ons nou reeds bekende Pavillon de l’Emyrne hotel.  Die volgende oggend haal ons vir Liezl en Jana en slaap ons hele familie nog ‘n aand in die hotel Pavillon de l’Emyrne.

Ons ry die Sondag na Antsirabe, ‘n groot stad op die Madagaskar hooglande.  Oral is ryslande en groente.  Dit is indrukwekkend hoe hierdie mense uit die natuur vir hulself sorg – hardwerkende mense.  Hul Bruto binnelandse produk is van die laagste in die wêreld, maar hul vlak van selfversorging is is baie hoër as in Afrika.  Selfs hul medisyne kry hulle van plante in die veld – indrukwekkend.

Ons ry die middag met pousse-pousse (riksja tipe waentjie)  deur die stad en besoek al die besienswaardighede – eet by die statige Grand Hotel en besoek daarna die mark.  Wat in interessante mark – die pousse-pousse manne het nogal mooi na ons gekyk en het soos wagte ons in die mark vergesel.  Die aand ry ons weereens met ons nuwe vriende na ‘n restaurant waar ons tradisioneel Malagies eet – Jana kry haar zebu (bees) met pomme frites (chips) tot haar verligting en die res van ons eet ravitoto en romazava en chrevettes met ritz (malgasiese rys) en legumes (groente).

Romavaza is stukkies beesvleis en breden wat amper soos spinasie is of soms met fyngemaakte cassavablare.  Ravitoto is dieselfde maar met stukkies vark.

Ons slaap die volgende aand by die beginpunt van die mokorotrip in die dorpie Miandrivazo in ‘n goedkoop netjiese hotel met ‘n uitsig oor die vloedvlakte.  Ons stap deur die dorp en ‘n vertraagde man en ‘n dronkie pla ons – die locals lyk geammuseerd. Die drie lang blondekop dogters trek baie aandag en is meer as ‘n kop langer as meeste van die Malgasiese mans.

 

Die drie dogters, Tanye, Liexl en Jana, op ‘n reuse mokoro.
Ons vaar stroomaf op die Tsiribihinarivier

Ons het twee groot mokoro’s vir die vaart op die Tsiribihina rivier en moet 117km aflê in 3 dae.  Elke boot het 2 ouens wat roei en ons gids roei saam (5 in elke boot).  Die mokoro’s is seker 9m lank en is uit ‘n 700mm stomp gekerf met verbasende dun kante en is waterdig.  Die res van ons sit gemaklik op sitplekke gevorm deur die slaap matrassies.  Ons vaar stroomaf en is verbaas oor die volume water wat die rivier het.  Die rivier is sowat 100 – 200m breed met baie voëls wat redelik min gepla is deur hierdie bewegende stompe.  Van die roeiers is nog jonk – 12 jaar en 14 jaar, maar veral die 14 jarige tree op soos ‘n veel ouer man.

Kamp op die walle van die rivier

Saans slaap ons op sandbanke en kry lekker kos voorberei deur die roeiers.  Die lewendige hoenders wat saamry, word elke aand minder.  Toevallig tog dat meeste van ons aandetes hoender met vars groente is.  Ons het ons eie tent en 2 slaapsakke en ‘n kombers plus ‘n binnesak vir elkeen van ons saamgebring.  Die roeiers het ‘n kontrak het om alles te verskaf en was ons verbasing groot toe hulle die eerste aand slegs 2 klein tente, 5 matrasse en 5 dun lakens vir ons het – geen slaapsakke.  Dit is winter en is baie koud.  Vandag eis ons maar net om te dink wat sou gebeur het sonder ons eie 2 slaapsakke en binnesakke wat ons saamgebring het.  Op die ou end het Johan onder 2 lakens geslaap, gelukkig met baie warm klere, en Liezl en Jana onder lakens en handdoeke.  Tanye en Marianne kon die 2 slaapsakke gebruik.

 

Die rivier gaan die tweede dag deur ‘n nou kloof met woude en regop kranse en telkens sien ons sifaka lemurs in die bome.  Langs die oewer is is vele klein vissersdorpies en soms ryslande.  Die rivier mond uit net noord van Morondava in die droeër weste en is rooibruin van die sand (klei) wat dit dra.  Klere wat nat word kry ‘n rooibruin skynsels.  Selfs ons voete verkleur na ‘n ligte rooi.

Tsingy de Bemarada, Kalksteen formasies tot 70m hoog. Was lank gelede onder seevlak

Van hier na die Tsingy de Bemaraha met 4×4’s.  Die Tsingy het kalksteen formasies met regop skerp punte tot 70m hoog met gange en grotte en strek oor ‘n area van 100km by 20km.  Wat dit verder baie uniek maak is die ontoeganklikheid van die area en gevolglik is die Fauna en Flora ongeskonde.  Die punte is so skerp soos messe en gedeeltes is versteende koraalriwwe.  Die roete is uitgelê met lere, kabels waaraan ons onsself moet anker en rotse as trapplekke.  So klim ons op, af, oor en deur gate.  Soms heelbo en by ander tye die ponder in nou gange.  Vir seker ‘n kilometer klim ons deur grotte – ‘n totaal surrealistiese ondervinding (sien foto’s).  Diep binne kry ons gestreepte meerkatte, jumping rats en vlêrmuise.  Ons weet net jy mag nie gly of val nie.  Op ‘n stadium gaan ons paadjie bo-oor die punte op klippe wat ingewig is.  Ek wil ‘n foto van ‘n rooi aalwyn neem wat in ‘n skeur groei  en tree 3m van die roete af al langs die skerp rotspunte.  Ek besef toe dat ek nie maklik kan omdraai nie, want om my is diep gate en besef dat dit bykans onmoontlik is om hier te beweeg weg van die voorbereide trapplekke.  Tussen deur die Tsingy is woude waar die lemurs (veral sifaka) bly.  Die lemurs kry dit reg om gemaklik oor die skerp punte van die Tsingy te beweeg.

Giant Coua

Van hier is ons na die Kirindy reservaat waar die lemurs, Gaint Coua (‘n voël so groot soos ‘n vleiloerie) (foto) en die meerkatte kompeteer in vir die oorskietkos van die kombuis.  Ons bly hier in basiese hutte en gaan vir ‘n nagstap waar ons verskeie spesies lemur en akkedisse sien asook die fosa roofdier wat lyk soos die kombinasie van ‘n hond, hiëna en ‘n kat.  Weereens kry ons koud met net een kombers elk en weer benodig ons ons slaapsakke.

Ten slotte ry ons verby die Avenue de Boabab met sy reuse kremetarte en goeie foto geleenthede (sien foto) tot by Morondava waar ons Liezl se verjaarsdag vier by ‘n oulike restaurant op die strand.

 

Avenue de Boabab

Ons vlieg almal terug na Tana en die drie dogters kry ‘n aansluiting terug na Suid Afrika.

Ek en Marianne huur ‘n motor met bestuurder en besoek die Antisabe Nasionale Park sowat 120km oos van Tana.  Hierdie woude is die tuiste van die Indri, die grootste lemur in Madagaskar.  Telkens hoor ons die Indri se harde alarm roep… ‘n kombinasie van ‘n walvisroep en ‘n huil van ‘n kind, maar baie harder, sodat mens dit kilometres vêr kan hoor.  Ons sien die Indri’s waar hulle meestal rus aangesien hulle net die plantmateriaal wat hulle eet kan verteer as hulle nie beweeg nie.  Klink vir my lekker – verpligte rus.  Ons gids speel die roepe van twee baie skugter voëls en gevolglik sien ons diep in die plantegroei ‘n Madagaskar Flufftail en ‘n Madagaskar Rail in die vleiland.  Die laaste aand slaap ons weer by die Pavillon de l’Emyrne hotel en eet vir oulaas lekker malgasiese kos.

Die grootste verkleurmannetjie in die wereld

Op Vrydag, 13 Julie vlieg ons terug na Suid Afrika vol van indrukke en baie tevrede.

Johan & Marianne