MADAGASKAR TREINRIT

JOHAN & MARIANNE TOER DEUR MADAGASKAR – 2012

Die treinrit van Manakara to by Fianarantsoa (Fiana)

Ons ry deur 48 tonnels

Ons slaap in Manakara ‘n groterige dorp aan die ooskus van Madagaskar sowat 500km noord van Toalagnaro (Fort Dauphin) wat in die suidoostelike hoek van Madagaskar lê.

Manakara is die administratiewe sentrum vir die area en is ‘n redelik skoon geordende dorp wat ‘n munisipaliteit het wat werk met teerpaaie asook water en elektrisiteit.  Die enigste opperasionele passasierstrein in Madagaskar ry van hier tot in Fianarantsoa, die groot stad sowat 100km wes van hier in die hooglande.  Die spoorlyn is deur die Franse gebou vanaf 1926 tot 1936, 163km lank en ry oor 67 brûe, deur 48 tonnels, waarvan die langste 1km lank is.  Omtrent 100 000 mense is afhanklik van die spoorlyn vir vervoer en handel en gevolglik stop die trein by 18 stasies.  Drie keer ‘n week ry die trein op tot by Fiana (Fianarantsoa) en drie keer ‘n week terug kus toe.  Daar is ook ‘n vragtrein met dieselfde aantal ritte.  Die rit neem normaalweg so 8 tot 10 ure (vir die 163km).

Jean, ons motorbestuurder, is stiptelik 05h30 by ons hotel en oppad na die stasie vertel hy ons van wat ons kan verwag – vier groen waens (tweede klas) en ‘n rooie (eerste klas).  By elke stasie blaas die trein drie keer sy toeter voor hy vertrek en het ons ‘n minuut tyd tussen elke toet sê Jean.  By ‘n oorgang ry ons oor die spore wat plek-plek uitsteek tussen die gras en bossies.  Die stasie is vervalle, maar toon nog tekens van hoe deftig dit in 1936 was en laat my aan ‘n kleiner weergawe van ons eie Pretoria stasie dink.

Die deure by die stasiegebou is nog toe en ‘n menigte drom saam.  Daar heers ‘n opgewonde vrolike atmosfeer en nuwe aankomelinge en kennisse word vrolik verwelkom.  Half sewe gaan die deur oop en begin die kaartjie verkope binne die stasiegebou.  Die stasiegebou ruik na gegiste kos en die vloer lyk asof heelwat lewendehawe al hier verby is en lank laas gewas is.  Ons, die gelukkiges wat eerste klas ry, het reeds bespreekte kaartjies en word eerste tot die perron toegelaat.  Voor ons staan ‘n diesel lokomotief met ‘n vragwa en drie groen passasierswaens.  Die voorste twee met ‘n groot 2 op die kant en die agterste met ‘n groot 1 – ons s’n.  Ons wa lyk eerder na ‘n derde klas wa, maar nadat ons die ander waens bekyk het, is ons oortuig ons is wel in eersteklas.  Op die een bankie is ons name op ‘n papier teen die rugleuning geplak.  Die lokomotief is ‘n antieke diesel met ‘n handreëling regom.  Voor in die wa is ‘n toergroep en om ons is ‘n paar Franse en Malgasiese adel – die wat die “luukse van eerste klas” met geld kan koop.  Ons hoor die vragtrein se lokomotief is stukkend en gevolglik het ons ‘n gekombineerde trein van passasiers en vrag.

Reisigers in 2de klas

Die toeter, meer soos ‘n skeepstoeter, blaas luidrugtig eers een keer en dan nog vier keer en toe vertrek ons – die hele Manakara weet ons vertrek.  Die huisies is tot teenaan die spoor gebou of eerder opgerig en daar word aanmekaar getoet sodat ‘n slaperige dorpeling nie by sy deur uitstap en so voor die trein beland nie.  Die trein wiele kla luidkeels en klink asof hulle olie nodig het – die trek wieg heen en weer en op en af  aangesien die spore met die tyd elkeen hul eie gang gegaan het.

Weereens ‘n luide toet en toe ry ons oor die aanloopbaan van die plaaslike lughawe – ons hoop maar die loodse het goeie oë of ore.  ‘n Paar keer ‘n week land ‘n geskeduleerde vlug hier vanaf die hoofstad Tananarivo.

Ons ry deur ‘n tropiese landskap oor brûe en riviere en deur tonnels.  Ons hang by die venster uit, maar kyk altyd vorentoe aangesien die plantegroei telkens teen die trein skuur.  Die treinbestuurder toet gereeld voor elke stasie sodat die passasiers weet van ons koms.

By die stasie is daar selde ‘n perron en koes-koes die menigte smouse en passasiers om die modderpoele.  Mense hang by die vensters uit en koop allerlei kos en ander ware.  Ons koop vir R1 paar gebraaide piesang vetkoekies.  Soms klim ons uit en neem foto’s.  Duidelik is die trein se koms ‘n groot sosiale geleentheid in elke dorp.  Die tweede klas wa is stampvol en net meer en meer mense en lewende hawe word ingelaai.  By die eerste groot stasie staan ons ‘n drie kwartuur terwyl vrag op- en afgelaai word deur die enkele deur van die trok – hope piesangs, houtskool in groot sakke en rys word opgelaai terwyl handelsware vir die winkels afgelaai word.

Ons trein het drie waens, twee vir passasiers en een vir vrag. Die agterse wa is eerste klas (het nog ‘n geel streep)

Die meeste van hierdie dorpies het geen pad verbinding met die buitewêreld nie en die wat het kan die pad net in die droë maande met ‘n 4×4 gebruik.

By ‘n stasie toet die trein – ons haas ons terug na ons wa, toet weer en weer en weer.  Na 10 minute en seker agt toete wat geleidelik langer word, vertrek ons.

Aanvanklik ry ons deur ryslande en pragtige bos en daarna begin ons klim en kyk af op snelvloeiende riviere.  Telkens ry ons verby klein dorpies en soms stop die trein.  Dit word gou duidelik dat ons vêr agter schedule is vanwee die talle verspoelings en nood herstelle en die swaar vrag.  Ons “eersteklas weelde” kom gou tot ‘n einde toe die twee tweedeklas waens oorvol raak en almal ‘n vashouplek of staanplek soek.  Gou is die paadjies ook toegepak van mense, bagasie en selfs ‘n paar hoenders en eende.  Oorkant ons sit ‘n jong egpaar met hul kleuter – die ouers lyk asof hulle op skool hoort.  Ons knieë pas soos ‘n legkaart tussen mekaar in.  Steeds bly mense by elke stasie opklim en moet die wat die toilet wil gebruik vele akrobatiese bewegings oor banke en mense uitvoer om daar te kom.  Op ‘n stadium klim ‘n vrou oor ons, seker oppad na die toilet.  Sy vind ‘n trapplek op die bank tussen Marianne se bene en sak soos ‘n sak aartappels grond toe.  Ons bene word soos domino’s kant toe gedruk.  Sy is vas oortuig dis haar plek vir die res van die trip.  Ons is nie beïndruk nie en het haar vinnig oortuig dat sy haar wig en sak aksie elders moet probeer – ons het per slot van sake bespreekte sitplekke … gehad.

Intussen raak die kleuter oorkant ons honger en haal die ouers ‘n pot vol rys en bak vol sous van êrens uit.  Hulle eet rof en my knieë deel in die gereg.  Die los rys word sommer afgevee na die grond êrens onder die menigde knieë.  Vuil peuter handjies hou aan my been vas.

Net voor 17h00 stop ons by Manampatrana, die halfpad punt.  Dis ‘n groot dorp met heelwat winkeltjies.  Ons stap rond en raak verveeld – gaan sit in die bedompige trein.  Na ‘n uur begin die toete en na ‘n lang ruk, ruk die trein vorentoe sonder om te beweeg, dan weer agtertoe – probleme.  Blykbaar het die een wiel van die lokomotief vasgeslaan en by nadere ondersoek blyk dit dat niemand iets aan die probleem doen nie.  Ek praat met die lokomotief bestuurder – “Ne parle pas anglais” – geen engels, maar met gebare kom ek agter dat hy vir instruksies wag van Fiana.  Na nog ‘n frustrerende halfuur in die pikdonker begin ‘n paar ouens aan die wiel werk met ‘n gasvlam.  Hier is nie elektrisiteit of ‘n sweismasjien in die dorp nie – ons wag.

Tipiese stasie Tussen Manakara en Fianarantsoa.  Eerstesklas (twee geel strepe) lyk effens beter as tweedeklas 

Dit is donkermaan en dit blyk dat die trein se ligte net werk as die trein loop.  Ons is van die min mense wat enige lig het – 2 flitse.  In ons kompartement probeer die egpaar ‘n kers vassit aan die bank deur die was op die bankleuning te drup.  Die kers word aangesteek en val na ‘n rukkie om – net hier keer ek hulle om weer die kers aan te steek – kan mens jou die chaos voorstel as ‘n vuur hier sou uitbreek!

Gou besef ek ons gaan nie hier wegkom vannag nie en begin losies soek, maar daar is geen losies van enige aard in hierdie dorp nie.  Boonop is daar ook geen selfoon opvangs of rybare paaie na die dorp toe nie.

Hierdie trein is die lewensaar vir 800 000 mense. Die paaie hier is feitlik onbegaanbaar

Die teerpad is 80km vêr en Fiana ook omtrent 80km per spoor.  Hoe gaan ons ‘n boodskap by Jean, ons bestuurder, kry wat in Fiana wag en hoe gaan ons hier uitkom?  Gelukkig het ons ons flitse, maar nie genoeg warm klere vir ‘n lang koue nag in die berge nie – boonop wil-wil dit begin reën.

Ons vind ‘n klein winkeltjie wat weer oopgemaak het en koop drie komberse.  Ek kry in die mark ‘n leë palmtafel met palmdak om op te slaap (een kombers onder en een kombers oor my).  Marianne trotseer die bedompige treinwa.

Na ‘n paar onsuksesvolle pogings kry hulle die wiel gedraai en wonder bo wonder kry hulle die trein aan die beweeg.  Die vragwa word op ‘n sylyn getrek (gelukkig was daar een) en om 21h00, na vele toete, begin ons ry en het die trein weer lig – bly dat ek nie op die palmblare hoef te slaap nie.  Dit is gou duidelik dat die lokomotief sukkel en telkens gaan die ligte af en net daarna gaan staan alles…. ‘n gewerfskaf volg, ligte gaan aan en die trein begin weer beweeg, soms teen letterlik ‘n kruipspoed.  Slaap is maar moeilik met die regop sitplek en baie knieë, maar gelukkig is die vars koue lug verfrissend en gelukkig het ons komberse.

Al die vrag moet by een klein deur ingelaai word

Ons hoor watervalle en ry deur tonnels en oor brûe en kan net voorstel hoe mooi dit sou gewees het in die daglig.

Telkens gaan staan ons maar weer, ligte af – wag – ligte aan – juig – begin beweeg.  Ek raak bekommerd dat ons in ‘n tonnel sou gaan staan en kry beelde van die nuus in die Europese dagblaaie.  “’n Hele trein vergas deur dieseldampe in ‘n tonnel in Madagaskar”.  Ek maak planne vir indien dit sou realiser.  Ons sou sodra ons tekens van vergiftiging sien, deur die venster klim en uit die tonnel probeer kom.

Voor hoor ons hoe die lokomotief se klank harder word wat ‘n aanduiding is van die naderende tonnel en wag ons totdat die klank weer sagter word voordat ons ontspan.  Dit gebeur toe tog dat ons in die middel van die langste tonnel gaan staan – ligte af en wag – lokomotief hoes en proes en spoeg dieseldampe.  Gelukkig besef ek daar is ‘n lugbeweging deur die tonnel toe ek die venster oopmaak – die diesel reuk is sterk.  In die beknoptheid van die tonnel kry hulle die lokomotief weer aan die gang – ‘n baie lang 5 minute later.

Toe dit begin lig word is ons oor die berge en kan ons die laaste 20km redelik vinnig voltooi.  By die stasie wag Jean en die passasiers, ook hope toeriste, vir die terugrit – dit sou twee dae neem voordat die lokomotief herstel is.  Jean het self omtrent nie geslaap nie, aangesien niemand behoorlike inligting oor die trein kon gee nie.  Die treinrit het 24 uur geduur.Aangesien ons die toiletgeriewe op die trein vermy het, neem Jean ons na sy broerskind, “The Commissioner” wat hoof is van die streek se polisie waar ons ontbyt kry.  Hy bly bo die polissiestasie in ‘n huis wat half luuks en half premitief is en maar baie deurmekaar.  Jean is baie beïndruk met sy belangrike familie en noem hom heeltyd “The Commissioner”.  Moontlik is dit sy doopnaam?

Kortliks ry ons aan by die hotel waar ons ingeboek was om te verduidelik hoekom ons glad nie daar gaan bly nie en daarna die lang pad na Antisirabe.  Ons slaap en die arme Jean moes maar bestuur.  So eindig ‘n ondervinding wat biede interessant, opwindend, beproewend en traumaties was.