SMOUSE VAN TURKYE

DIE SMOUSE VAN TURKYE

 

Die roomysman in sy motorboot is ‘n kenner van maritieme gebruike.  So gebeur dit dat ons op ‘n catamaran seilboot ‘n pragtige baai naby Oludeniz in Turkye binnevaar.  Hier wil ons slap.  Daar is reeds ‘n paar ander bote in die baai wat geanker is.  Die gebruik is om ‘n anker voor uit te gooi en dan met die enjins agteruit te ry tot naby die oewer en dan een of twee landline uit te sit na ‘n boom of rots op land.  So word die boot se beweging met 3 ankerpunte beperk.

 

Dir roomysman is vining daar en neem bevel oor vanuit sy motorboot wat hy vernuftig hanteer … “Bit more to port, let the achor go, yes, yes … Stop”.  So kom sy opdragte een na die ander.  Tanye, ons skipper, aanvaar sy opdragte gedweë en ons, die bemanning moet die opdragte uitvoer.  Kan nie glo hoe gemaklik die roomysman beheer oorgeneem het nie.  Hy neem die punt van die tou en vaar tot by die land waar hy behendig die tou aan ‘n rots vasknoop.  ‘n Tweede tou word aan ‘n tweede rots vasgemaak – taak voltooi.

 

Die dames word nou op sy eg Franse manier op die hand gesoen.  Hy spring terug in sy boot en maak sy roomyskas oop en vertoon sy ware met nodige “flare”.

 

Nou is ons moreel verplig om roomyse te koop … lekker koud maar baie duur.  So het ons roomysman ‘n niche in die mark geskep.  Na ‘n suksesvolle transaksie ry hy voort in ‘n rigting soekend vir sy volgende prooi.

 

‘n Dag later sien ons ‘n pragtige bruingebrande roomysmeisie op ‘n motorboot wat teen ‘n hoë spoed by ons verby ry.  Gelukkig was ons nie haar prooi nie, want die manne op ons boot sou nie hierdie roomyse kon weerstaan nie.

 

In elke dorp langs die Middelandse see op die toeriste- en seilroete kry ons die restaurant soos sardientjies ingeryg langs die kaaie.  By elke restaurant word ons voorgekeer wat 8 honger toeriste is ‘n voorkeurprys vir enige restauranteur.

 

Elkeen het sy eie storie.  Sommige verkoop net “unieke” vars vis, sommiges gee poeding verniet, ander gee 20% afslag.  Ander beweer hulle was die eerste restaurant in die dorp of hul kos is net stukke beter as die restaurant langsaan.  Party wys ons hul vars vis in bakke wat grootoog vir ons loer en ander gebruik hul sjarme om die dames te bekoor.  “If you don’t dare eat here you are going to break my heart” of “Promise you will come back” of “South African?” Your friend was here yesterday”.