AFRIKA BRIEF 3

Die veerboot oor die Kongorivier wat Kinshasa en Brazzaville verbind

AFRIKA REIS : JOHAN & MARIANNE  (3)      –         19 JUNIE 2010

Snelvloeiende riviere in Gaboen

Laas toe ons geskryf het was ons in Kinshasa van die DRK (Demokratiese Republiek Kongo).  Op ‘n stadium ry ons verby die standbeeld van Laurent Kabila, die vorige president van die DRK en voel lus om ‘n foto te neem.  Gelukkig besluit ons daarteen, anders was ‘n verlengde verblyf onder minder gunstige toestande ons voorland.

Hier is baie soldate en almal lyk “trigger happy”.  Ons word afgeraai om buite die hotel alleen te beweeg.  Amelia van ons ambassade het ons die volgende oggend na die veerboot begelei.  Chaos en 1½ uur later vertrek ons oor die Kongorivier na Brazzaville, hoofstad van Brazzaville Kongo.  Hier is die atmosfeer opmerklik makliker met minder soldate en polisie.  Brazzaville is ook maar vervalle, maar beter georganiseer as Kinshasa – bly in ‘n basiese, maar duur hotel met ‘n swembad en lugreëling.

Ons rit na Gaboen word onderbreek deur die polisie wat aandring dat hulle ons begelei.  Op die bakkie voor – 13 soldate met AK 47’s en ‘n Bazooka en in ons motor nog 3 met AK 47’s – ons ry naamlik agter.  Die pad is grond en baie stof.  Die 100 km of so is teenaan die DRK grens en blykbaar baie gevaarlik aangesien die rebelle met AK 47’s uit die DRK aanval.  Op ‘n stadium wag ons vir ‘n trein om verby te kom.  Ook hier is daar soldate, swaar gewapen op die lokomotief, een by elke wa.  Ons kry die boodskap dat ons nader aan mekaar moet ry – amper ‘n onbegonne taak vanweë die stof.  Blykbaar het die voorste bakkie ‘n paar keer met groot vertoon gestop en paraat die bosse bespied.  Of hierdie toneelspel was en of daar werklik iets was weet ons nie.  Langs my sit ‘n meer senior offisier in gewone klere ook met ‘n AK 47 – Elke nou en dan merk ek dat ek in die loop van die geweer afkyk en dan “pardon monsieur” en skuif hy die geweer sodat die loop deur toe wys – Alles baie vriendelik en professioneel.

Ons ry deur die bamboeswoude in Brazzaville Kongo

Op ‘n stadium besluit die Kaptein dat ons nou veilig is en dat ons op eie stoom kon voortgaan, maar moet by elke dorp by die polisie aanmeld – wat ‘n “shlep”.  Elke 40 km is daar ‘n nuwe distrik en wil die polisie ons paspoorte en detail neerskryf.  Gelukkig het ons ‘n vorm met alle detail wat hulle later aanvaar.  Steeds neem dit ‘n hele ruk by elke polisiepos.  Die paaie na die grens is nogal nie te sleg nie.  Opvallend dat die dorpies skoon is en elke riviertjie silwerskoon.  Ons slaap nog 2 aande in die Kongo voordat ons Gaboen ingaan.  Gaboen beïndruk met sy vriendelike mense, effektiewe doeane en natuur.  Eers graslande en later begin die woude (eerste aaneenlopende woude van ons toer was in Gaboen, digby die ewenaar).

Die hoofpad noord in Brazzaville Kongo

Opvallend hoe baie vragmotors met houstompe ons langs die pad kry.  In die Kongo het ons in ‘n middag verby 30 vragmotors met hout gery.  Die stompe is 1 meter in deursnee en tot 19 meter lank – (het dit gemeet) en elke vragmotor het 9 of 10 sulke stompe.  Die drywers is almal Chinese.  So word die woude uitgeroei.

In Gaboen is glo gestop met die uitvoer van hout.  Tog sien ons steeds houtvragmotors met Chinese bestuurders – baie van hulle.

Tweede nag in Gaboen slaap ons in ‘n hotel in Lambarene – voertuie word gediens, herstel en skoongemaak.  Op die einde bly ons 3 nagte.  Besoek Albert Schweitzer se hospitaal en vaar met ‘n boot vir 6 ure op die Qgooue rivier.  Opvallend min voëls, maar met pragtige woude.

Op die 11de Junie vertrek ons van Lamborene (Gaboen) noord en ry deur indrukwekkende woude, soms langs snelvloeiende riviere.  Dit is opmerklik hoe baie en groot die riviere in hierdie deel van Afrika is.  Langs die pad kry mens krokodil, luislang, samango-ape en rietrotte te koop.  Sommige net-net lewendig, ander half biltong.  Ook baie klein bokkies is te koop.  Selfs die voëls spring nie vry nie en baie mans loop met haelgewere rond.  Nodeloos om te sê, ons sien geen wild en min voëls.  Om ‘n voël met ‘n verkyker te probeer kyk spel vir hulle gevaar (die dood) en gevolglik vlieg hulle ver weg.  Slaap weereens in ‘n gruisgroef met houttrokke wat regdeur die nag verbyry – skrikwekkend die slagting van die groot bome.

Die houttrokke wat leeg is dra hulle agterwiele en ‘n lang as as vrag wat hulle soos insekte laat lyk, land in en dan weer met vrag see toe.

 

Ons besoek die Pigmies in Cameroen

Kameroen is skoon sonder ‘n papiertjie in sig en duidelik meer ekonomiese bedrywighede.  Ook minder vriendelik en haat foto’s – nie eers die natuur mag afgeneem word nie.  Die stede steeds vuil.  Ons stop by ‘n mark en koop avo’s, tamaties, oliebolle (heerlik), pynappels en piesangs en ek gesels met ‘n paar ouer mans.  Marianne wil ‘n foto neem en vra die verkoopster of dit reg is – sy sê ja – wat ‘n drama volg tussen die ouer mans en die jonger mans, wat glo foto’s is taboe.  Al woorde wat ons verstaan is “tourismo”.  Op die einde stap die ouer mans kopskuddend weg en neem ons geen verdere foto’s nie.  Ons slaap die 13de en 14de by Kribi in ‘n oulike, baie eenvoudige hotel wat die “locals” ook gebruik.  Ek en Marianne kamp teenaan die see by die hotel, eet vis op die stoep en geniet die pragtige strande.

Pigmiekinders in hul kanoes
Pigmie nedersetting in die woude van Cameroen

Maandag stap ons in gietende reën na waar die rivier direk in die see val.  Op ‘n mokoro/houtskuit word ons ‘n paar kilometers stroomop geroei na ‘n Pygmy nedersetting in die woude – wat ‘n eenvoudige lewenstyl.  Hulle stel slegs belang in geld om parafien te koop en verkies rys of iets wat hulle kan eet as vergoeding.  Die een seuntjie het ‘n “tree rabbit” as troeteldier.  Die middag kyk ons saam met die locals hoe Kameroen en Japan teen mekaar sokker speel in Bloemfontein.  Hulle is glad nie beïndruk met hul span wat 1 – 0 teen Japan verloor nie, maar baie tevrede met die vuvuzela wat ek vir hulle gegee het.

Die 15de reis ons via Douala na Limbe, ‘n dorpie aan die voet van Mount Cameroon (4100 meter hoog en 20 km van die see).  Limbe het ‘n interessante vakansie-oord van vervloë dae, nou verval maar veral bekend vir sy Botaniese tuin.  Ongelukkig reën dit hier 11 meter per jaar en reën dit so hard dat ons maar na die Botaniese tuin uit ons motors kyk.  Die beste hotel hier het ‘n pragtige ligging, maar niks werk nie en die buitedeur is vasgeroes en van die ruite is uit.  Heerlik vis geëet en ons verwonder aan die wolkbreuk van water wat heelnag neerstort.

Kinders in Cameroen

Die een Toyota moet ‘n nuwe difflock (as) kry en gelukkig kon die garage in Douala help.  Douala is ‘n lewendige stad met 2 miljoen mense.  Kameroen het ‘n goeie padstelsel wes en noord met ‘n hoogland tussenin met hopelose paaie.  Ons moet hier deur op pad na die noorde, die enigste toegang tot Nigerië hierdie tyd van die jaar.  Tot by Foumban is dit teer (± 65 km/h) en slaap ons in die dorp by die Katolieke.  Ons besoek die museum en paleis van die Sultan – baie kultuur en ‘n lang geskiedenis.  Oorkant die straat rumoer dit van motorfietse (almal Chinese fietse) en kuierplekke.  Om half vyf begin die Moslems sing van 2 kante af en half ses kompeteer die Katolieke met hul kerkklokke.  Soos te verstane vertrek ons vroeg.

Die pad is grond (22 km/h) maar pragtig deur die hooglande.  Die temperatuur is baie matig en die Moslem invloede kom baie sterk deur in die dorpies.  Dit verg konsentrasie om deur die gate en obstruksies te bestuur.  Heelwat vragmotors ( 6-as vragmotors) gebruik ook hierdie pad om stede in die middel van die land te bedien.  Dit vat heelwat vernuf om by hierdie vragmotors verby te kom aangesien hulle deur die slaggate nie vinniger as looppas ry nie.  Op ‘n stadium hoop die vragmotors op.  Dit is duidelik dat van die bestuurders al onder hul vragmotors uitgekamp het.  Een van die vragmotors het gebreek en staan in die middel van die pad – besig om die enjin oor te doen.  Intussen is daar seker 40 vragmotors weerskante wat moet wag.  Een bestuurder probeer verby kom – val vas in ‘n sloot – word deur ‘n ander uitgetrek en ry amper in Dave vas (inderhaas moet ons almal “reverse’).  Gelukkig kom ons verby – dit is Kameroen – partykeer georganiseerd en ander tye chaos.  Boskamp weereens langs die pad.

Ry voort teen 22 km/h.  Vat kortpad op ‘n baie klein paadjie wat blyk ‘n goeie pad te wees – 35km/h – boskamp so 80km oos van Ngaoundere, hoofstad van die noordprovinsie.

Ons geniet die ondervindings, maar ry meer as wat ons wou.  Tot nou toe nog net ‘n motorfietsryer teëgekom wat deur Afrika toer.  Geen tekens van enige overlanders of toeriste of kampplekke tot dusver teëgekom nie.  Tracks for Africa ken ook nie hierdie paaie nie en inligting is maar skraps – alles baie interessant