BLOG 16 (Einde April 2018)

 

BLOG 16:  VALPARAISO EN DIE ATACAMA WOESTYN IN CHILIE

Blog 16: Vanaf Santiago, hoofstad van Chilie, tot by die Bolivië grens

 

Discover the treasure of Valparaiso

Valparaiso is ‘n hawestad naby Santiago en is onder andere bekend vir sy straatkuns. Ons het nuwe staal rims vir ons motor Timbuktu laat maak in Santiago  en terwyl ons wag besoek ons Valparaiso. Die stad is op die heuwels om die hawe gebou met steil straatjies met oral baie oorspronklike straatkuns. Van die skilders was besig met hul skeppings toe ons verby stap en is maar te gewillig om te poseer vir ‘n foto. Die stad is bekend daarvoor dat alles aanvaarbaar is en gevolglik lê sy sjarme in die jong mense, hul straatkuns, hul individualiteit en hul kleredrag. Elkeen doen sy ding op sy eie manier.

Die straatkuns in Valparaiso se strate

 

Eet hoog bo die stad

Weereens het ons drama toe ons binneband bars by die petrolpomp in een van Valparaiso se besigste strate. Lees meer by PAP BAND.

Terug in Santiago is ons verplig om nog ‘n dag langer te vertoef terwyl ons wag vir ons rims. Santiago is groot, 8 miljoen mense, en baie besig.

Johan en Marianne met Santiago in die agtergrond

Die vervoerstelsels werk en is baie besig, veral die moltreine. Dele van die middestad het pragtige ou historiese geboue asook modern geboue en wye boulevards, somige slegs vir voetgangers. Die meeste museums is ongelukkig net met Spaanse byskrifte en beteken eintlik vir ons maar min. Ons eet vis in die vismark tesame met die kleure, geure en interessante karaktervolle smouse.

Vismark in Santiago

Ons het nou briek probleme en slaap nog n aand in die kunstige Hostel Fox in die studente area in Santiago. Bedags is daar werkswinkels en straatstalletjies en saans word die tafels en stoele uitgedra vir die eetplekke en discos. Die atmosfeer is gesellig en aktief.

Studente in Santiago

Op pad noord ry ons van die semi-droeë plantegroei van Santiago na die droeë Atacamawoestyn. Saans draai ons af en slaap op die kaai tussen die vissersbote by Pichicuy. Ons arriver net na sonsondergang met die vissermanne wat hul laaste vis verkoop en skoonmaak . Die pelikane, meeue en honde geniet die afvalstukkies.

Ons slaap op die kaai tussen die vissersbote

Die volgende oggend is dit mistig met ‘n pragtige uitsig oor die strand langs die kaai. Dit is asof die lokale vissersmanne daarvan hou dat ons op die kaai uitkamp…baie vriendelik. Ons kar trek nogal aandag in Chilie en ons moet verskeie male ons storie vertel. Die mees algemene vraag is “Hoe het julle vanaf Suid Afrika tot in Amerika gery?” asook “Hoekom is julle nie swart nie?” en “is dit moeilik om  hier met ‘n regterhand stuur te bestuur?”

Valleie in die Atacama met soms ‘n plasie langs ‘n stroompie

Kaktusse wat blom

Ons ry op met die Ovalle vallei met sy wingerde en vrugteboorde langs die rivier. Dit is hier droeë  woestyn wat met die groen onder die besproeingsleivore kontrasteer. Hoër op ry ons oor hoë passe. Telkens is daar afdraai paaie na planetariums oftewel sterrewagte hoog op teen die berge. Hierdie is baie gewild by die Europeane aangesien hier min lig besoedeling is, die lug baie skoon is en die sterrebeelde van die suidelike halfrond soveel helderder is as die van die noorderhemel.

Die ‘Barrowing parrot’ by Vacuna

Ons rit op met die Paso Aqua Negra was besonder met sy wisselende rou rotswande maar ongelukkig kort geknip aangesien die boonste gedeeltes van die pas gesluit is vir die winter.

Woestyn landskap met grasse in die rivierlope

Hierdie vallei en veral die dorp Vicuña is bekend vir sy soet pisco druiwe waarvan veral brandewyn gemaak word. Ons besoek die Pisquera ABA disteleerder en proe die brandewyn.

Wingerde in die vallei
Brandewyn gemaak met pisco druiwe

Terug by die see kamp ons op ‘n wit strand by die Reserva Pinguena de Humbolt. Voor ons is rotse met baie seevoëls en seker twintig bote wat in seisoen gebruik word vir die besoeke aan die eilande. Tans is ons die enigste toeriste en moet ons lank wag voordat daar tien passasiers is sodat ons die eilande kan besoek. Ons sien verskeie windverwaaide voëls en die Humbolt pikkewyne. Die wind waai sterk en ons vaart is nat en koud  met ons wat die naarheid moet beveg. Dit is  lekker om weer op droë land te wees.

Ons kamp met ‘n uitsig oor die eilande waar die Humbolt pikkewyne broei
Humbolt pikkewyne

Weereens probeer ons die berge inry. Hierdie keer is ons bestemming Parque Nacional Nevado Tres Cruses. Na drama met ‘n papwiel by Copiago ry ons die vallei op. Die vallei is redelik verlate en later in die donker kamp ons by die enigste drie groter doringbome van die hele rit. Dit gebeur dat daar telkens ‘n groen vallei vorm waar die rivier bogronds vloei. Alhoewel hier omtrent geen reën val nie is daar tog riviere wat vloei, afkomstig van die hoë Andes.

Dit is woestyn maar tog is daar heelwat riviere afkomstig van die Andesberge

 

Die volgende oggend ry ons ons vas teen die sneeu, vars sneeu van die vorige nag en moet ons agt kilometer voor die mere omdraai…wat ‘n teleurstelling!

Ons ry ons vas teen die sneeu

Ons ry ‘n ent langs die see en slaap by Bahia Iglesia wat duidelik in seisoen ‘n gewilde uithang plek is. Die promenade is pragtig uitgelê met talle restourante met veral visgeregte.

Ons stop by ‘n kleurvolle vissershawe in Caldera en kyk hoe die dag se vangste in vriestrokke gelaai word. Van die visse is seker ‘n meter lank. Die visverkopers maak vir hul kliënte die visse skoon en gooi die binnegoed oor hul skouers in die hawe. Die honde, robbe en seemeeue kompeteer vir die stukkies vis wat oorbly.  Daar is bote van alle grotes en kleure waarvan party duidelik nie meer gebruik word nie. Kleurvolle voëls is nou die matrose van die verlate bote. Ons is verras deur die pragtige mosaïekwerk by hierdie, hoofsaaklik vuilerige, hawe. Ons het ‘n fees met ons kameras!

Vissershawe by Caldera
Visserman met sy vangs
Die honde, robbe en meeue kompeteer vir kos

Op ‘n hoogte van 4300m slaap ons by die Geisores del Taito (geysers) waar die stoom uitblaas oor ‘n groot area. Glo die hoogste ‘geyser’ in die Chilie. Ons arriveer na donker en trotseer snags temperature van ver onder vriespunt. Boonop vang die hoogte ons en hyg ons na suurstof. Meer as ‘n uur voor sonsopkoms arriveer die massas toeriste vanaf San Petro de Atacama. Almal kry koud maar wil die ‘geysers ‘ sien voordat die wind die stoom wegwaai. Die mineraalryke geysers spuit warm water uit verskeie kleurvolle gate met onaardse roggel geluide. Nogal ‘n eienaardige atmosfeer so in die koue en die donker.

Geysers bo in die berge
Berglandskap in die omgewing van die geysers

San Petro de Atacama is ‘n stowwerige dorp met nou strate en modder geboue. Hier is selfs buite seisoen baie toeriste, veral jong mense. In die oorvol strate moet die voetgangers en die motors vir spasie met mekaar kompeteer. Ten spyte van die ooglopende chaos heers hier ‘n wonderlike ‘vibe’. Om by die enigste petrol pomp te kom is nogal ‘n kuns. Ons moet in verskeie nou eenrigtings ry en om skerp draaie om daar te kom. Op die plein is ‘n pragtige kerkie waar ‘n diens gehou word–dis Saterdag en die Katolieke hou kerk. Die hekke is van kaktushout gemaak en die mure van modder.

Die kerkie by San Pedro de Atacama

Ons bly buite die dorp by ‘n gesellige en netjiese Franse kampterrein. Die eienaar van hierdie woestynkamp, onder groot bome, het ‘n paar jaar in Frankryk gewerk en gevolglik is sy kliente hoofsaaklik Franse overlanders en kampeerders. Jong mense wat goed engels praat. Ons kuier lekker saam en beleef ook hul avonture.

Van hier besoek ons die soutmere met sy drie soorte flaminke. Oral is borde wat inligting gee oor ekologie, diere en die ontstaan van die meer, ook in Engels. Die voëls is mak en gewoond aan mense. Ons beleef pragtige kleure met sonsondergang.

Andean en Chilian flamingos

Ons besoek twee van die Reservas Nacional Los Flamingos. Turkoise mere in die berge met die talle vulkane as agtergrond. Al diere wat hier oorleef is Vacuñas en Jakkalse. Ons geniet die ongenaakbaarheid en kleure van die berge.

Mere
Vicunas

Hier en daar is daar steeds flaminke in die kleurvolle soutpanne. Die tweede Reserva net oos van San Pedro  is die sogenaamde maanlandskap (Valle de Luna) met sy teksture en vorms. Ons kruip deur die soutgrotte met rotse wat soos gestolde lawa lyk.

Marianne in die soutgrotte

Ons beleef ‘n besondere sonsondergang vanaf een van die rotskoppe.

Maanlandskap
Vulkane is hier volop

Die volgende blog sal ek skryf oor die soutpanne in Bolivië en die Chakogebied in die noorde van Argentinië.

Groete