BLOG 17: Bolivië en die Argentynse Chaco

Soutmere op pad na die Chilie/Bolivië grens

 

BLOG 17 (Mei 2018)

Hierdie soutpan is in Chile net voor die grens met Bolivië

Ons is oppad na die grenspos Ollague tussen Chilie en Bolivië en soek kampplek. Op ‘iOverlander’, die internet forum, verwys iemand na ‘n piekniekplek by ‘n  soutpan met ‘n warmwaterfontein net voor die grens. Wat ‘n juweel! Ons is alleen met net jakkalse en watervoëls as geselskap. Die fontein is helderskoon vars warm water en is ‘n heerlike lafenis in die koue berglug.

‘n Fontein met heerlike skoon, vars en warm water langs die soutpan. Heerlik warm in die koue berglug

 

Ons kampplek by die soutpan met soutwater voor

 

‘n Skelet op die soutpan wat maar weereens bevestig hoe ongenaakbaar die omgewing is

 

Franse fietrsryers op die grensdorpie op pad na Bolivië

Die pad na die ‘Salar de Uyuni’ soutpanne is ‘n riller met sinkplaat wat voel asof ons kar enige oomblik kan verander na ‘n hoop parte. Die paaie het nie aanwysings nie maar uiteindelik kry ons toegang tot die soutpan via ‘n goeie pad wat sowat ‘n meter bo die panne gelig is.

Hierdie boliviaanse vrou is besig om quinoa te sif in die wind

 

‘n Graf op die Salar de Uyuni soutpan met water om ons. Wat sal die storie wees?

Om ons is die panne onder water met die berge ver weg wat soos eilande op die water dryf…die effek van lugspieëlings. Na ‘n paar kilometer stop die pad skielik met net water voor ons. Wat nou? Ons sal moet omdraai want hier voor ons gaan ons vassit in die soutwater. Ver oor die horison sien ons ‘n kar aankom en hulle ry met hoë spoed deur die water. Die bestuurder oortuig my ons kan hier deur maar moet presies die lyne volg wat hy verduidelik. ‘Moet ons terug op die slegste sinkplaat wat ek nog beleef het of vorentoe?’.. dis die besluit wat ons moet maak! Natuurlik besluit ons vir die meer avontuurlike opsie

Van die gidse wat ongestoord teen ‘n hoë spoed deur die soutwater ry

Sommer dadelik sit ek vas. Ek sit die kar in 4×4 en kom uit in trurat. Ek het my lyn effens verkeerd gevat. So ry ons uiteindelik in 4×4 deur die water en voel hoe ons motor hard moet werk in die nat sout. Ons was maar verlig toe ons op die droeë gedeeltes van die soutpanne kom. Die sout is hier kliphard met hier en daar effens sagter gedeeltes in perfekte ronde sirkels?  Dit word blykbaar ‘the Eyes’ genoem.  Dit gaan nou maklik en ons soek spore om te volg en kry dit uiteindelik.

Op die soutpanne
Ons kry weer water op die Salar de Uyuni-soutpanne

Aan die oorkant sowat 2 uur later is daar weereens net gate en water. Gelukkig sien ons ‘n paar voertuie op die soutpan ‘n endtjie weg en ry na hulle toe. So  volg ons hulle na die droë oewer. Noodgedwonge weereens deur soutwater.

Sonsondergang by die panne

Die volgende dag ry ons weer op die soutpanne maar hierdie keer met ‘n gids in sy kar. Ons ontmoet die res van ons groep by die trein begraafplaas. Eers besoek ons die southotel op die soutpan en ry daarna na die Isla Inca Huasi (‘n eiland met massas kaktusse wat buitengewoon groot is). Ons klim tot bo en staan verstom oor grootsheid van die panne! Ver op die horison sien ons kolletjies wat geleidelik in Land Cruisers verander soos hulle naderkom.

Vergesigte oor die soutpan vanaf Isla Inca Huasi
Kaktusse op die eiland
Marianne tussen die veelkleurige kaktusse
Kaktusse

Die jongmense saam met ons speel met ‘trick’ fotografie en self Marianne hou my in die palm van haar hand

Marianne moet net nie vir Johan laat val nie

Op pad terug stop ons verskeie kere om fotos te neem ook waar die soutpanne toe is met ‘n lagie water. Met sonsondergang neem ons fotos van die pragtige weerkaatsings op die water.

 

Weerkaatsings
Johan en Marianne
Sonsondergang

Ek laat my kar skoonspuit om ontslae te raak van die sout. Ek wou die proses herhaal maar is so beïndruk in hoe deeglik hulle die werk gedoen dat ek besluit my kar is nou soutvry. Die kar is so skoon gewas dat ek nie die kar kon ‘start’ nie. Na ‘n gesukkel soek ek ‘n motorelektrisien en oortuig hom om te kom kyk. Hy kry ook niks reg nie en oortuig my dat ons die motor moet insleep na sy werkwinkel. Toe hy na ‘n lang wag nie opdaag nie en na ‘n opmerkink deur ‘n verbyganger dat die petrol op is, skakel ek oor na die tweede petroltenk en siedaar die motor ‘start’. Ek kon toe terug skakel na die oorspronklike tenk. Duidelik ‘n lugborrel wat die probleem was.. nie ‘n tekort aan petrol nie Toe ek die motorelektrisien opspoor was hy besig met ‘n ander motor..Hy het van my vergeet op tipiese Bolivië manier. So het ons motor sy geite.

Die trein begrafplaas in Uyuni

Uyuni is ‘n tipiese ‘frontier’ stowwerige dorp met meer Land Cruisers as enige ander voertuig, almal meer as 10 jaar oud. Hierdie Cruisers word gelaai met 6 tot 8 passasiers en massas begasie op die dak vir die meerdaagse toere en dan laat waai hulle deur die soutwater. Die soutpanne is 12 650 vierkante kilometer (420×300 km) groot en die sout lae is soms tot 7 m dik. Ander plekke is dit net ‘n sout kors oor die water wat ‘n hoë sulfaat inhoud het. Onder dit is daar ‘n ryk verskeidenheid minerale’ maar veral Litheum wat glo genoeg is vir 100 jaar van die wêreld se produksie. Tot die onsteltenis van die groen partye wil Bolivië dit nou ontgin.

Hierdie soutpan is 12 650 vk km (sowat 300 x 420 km)

Die pad na die Argentinië grens via Tupiza (Butch Cassidy wereld) en Tarija was vol verrassings. Die pad het gewissel van baie goed tot baie sleg, van droeë woestyn tot nat woude, Van passe wat met 1500m stygings tot plat eentonige vlaktes, van geen teken van lewe tot verkeersknope in Tarija.

Woude in die suide van Bolivië naby die Argentynse grens

Die Reserva Formosa is ‘n afgeleë reservaat in die noorde van Argentinië in die chaco bosse teenaan die Rio Teuco.  Hier kom selde toeriste wat dit nogal spesiaal maak. Ons stap tot by die rivier maar moet versigtig wees want die rivierwal kalf heeltyd in. Die pad na die reservaat word telkens verander soos die rivier nuwe gedeeltes van die oewer opeis.

Die rivier se posisie verander gedurig. Walle wat inkalf is materiaal vir nagmerries. In die laaste paar maande is op hierdie deel al 100m weggekalf.

Per fiets ry ons na uitkykpunte om na die ‘oxbow’ mere (dis nou waar die rivier vroeër gevloei het voordat dit kortpad gevat het) te kyk. Ook sien ons heelwat voëls en rus lekker uit. As dit hier hard reën word die pad terug na die hoofpad onbegaanbaar. Gelukkig reën dit maar nie hard nie en kan ons gemaklik terug ry. Ons besef dat sou die rivier inkalf en ons insluk niemand ons sou vind nie

‘n Speg (White-fronted Woodpecker) op ‘n kaktus
Red-crested Cardinal

 

Tipiese Chaco. Digte droë woude

Die omgewing soos ons ooswaarts ry is plat met die watertafel naby die oppervlakte. Hier kan ons nie waag om van die pad af te draai sonder om vas te sit nie.

Die Bañado la Estrela is groot mere met duisende voëls en baie droë bome in die water. Die pad loop vir 15 km deur die vloedvlaktes met water weerskante. Ons slaap op ‘n dienspad reg langs die water net voor ‘n brug en is verbaas oor hoeveel water hier verby vloei. Dit is ‘n ongelooflike gesig en sonsondergang is soos ‘n rolprent wat afspeel met al die voëls en kleure.

Banado de Estrela, ‘n vloedvlakte met baie voëls. Ons kamp langs die water
Massas water vloei oor hierdie keerwal omtrent ‘n kilometer lank
Sonsondergang oor die vloedvlakte
Swart aasvoëls voor met Grootwitreiers, ‘Woodstorks’, ‘Southern American Stilts’ en ‘Roseate spoonbills’ agter
Crested Caratara en Swart aasvoël
Woodstorks, Cormorants, Karataras and Great egret

Net toe ons kos reg is word ons oorval deur duisende motte. Dit word ‘n geskarrel om in die kar te kom in die donker en moet daarna selfs ‘n paar motte uit die kos haal. Sou die motte 30 sekondes vroeër opgedaag het sou dit chaos gewees het. ‘n Uur later is daar nog net ‘n mat dooie motte op die grond. Die volgende oggend geniet ons die verskeidenheid en groot hoeveelhede voëls. Twee klein bussies met Argentynse jong mense arriveer om die skouspel te aanskou. Snaaks genoeg kom hier min oorsese besoekers.

Die kormorante en reiers werk saam om vis te vang

Net voor die grens na Paragauy slaap ons by Laguna Blanco ‘n groot meer en geniet soggens die onheilspellende oorverdowende geluide, iets tussen ‘n bees se bulk en die hoe-hoe geluid van ‘n waaier, maar hard. Dis ‘Howler monkeys’ glo die lawaaierigste dier op aarde. Ek dag dit moet honderde van hulle wees maar dit blyk slegs 3 of 4 mannetjies te wees wat die geluid maak.

Ons kamp by Lago Blanco
Howler monkey met hul oorverdowende roep. Glo die luidrigtigste op aarde

Ons slaap nog ‘n nag hierdie keer oorkant die meer in die Pilcomayorivier Nasionale park wat hoofsaaklik bestaan uit palmwoude is in moerasgraslande.

‘n Plasie tussen die vleie

Waar ons kamp is geen muskiete nie maar toe ons gaan fietsry takel die reuse muskiete ons. Ek sien bloed spat soos ek muskiete dooddruk. Ons het gelukkig muskietgoed in ons rugsak gehad en het seker ‘n halwe bottel oor ons uitgespuit wat darem gehelp het. Snaaks genoeg het die massa bytplekke na ‘n uur glad nie meer gejuk nie. Die volgende oggend kry ons besoek van onder andere ‘n jakkals en ‘n bosbokkie. Ook hier is ons die enigste besoekers.

White monjita

Ons ry na Ascuncion, hoofstad van Paragauy en slaap by ‘n wonderlike kampplek ‘Hasta la Pasta’ net buite die stad met ‘n uitsig oor die meer. Die meeste kampeerders is Switsers wat wat  duitsspprekend is. Die Switserse eienaar reël dat ons motor finaal reggemaak word deur Ronaldo ‘n vriend van hulle. Hy ken Land Cruisers en het vanjaar aan die Dakar tydren deelgeneem nogal in ‘n Toyota met ‘n Isuzu voorkant aangesien Isuzu hom gesponser het. Hy vertel dat die Peugeot’s ook nie Peugeots is nie behalwe vir hul kenteken.

Hierdie Karatara is volop in Suid Amerika

 

Cattle tyrant

Viv en Hanlie Gericke sluit by ons aan by Hasta la Pasta . Ons is uitgehonger na Suid Afrikaanse geselskap en kuier lekker saam terwyl aan my kar gewerk word. Ons toer ‘n verdere week saam met Viv en Hanlie maar meer daaroor in ‘n volgende blog.

Groete