BLOG 18

Ons rit deur Paragauy, Argentinië en Urugauy (Oranje/geel – Blog 18) Die rooi kolletjies is waar ons geslaap het

BLOG 18: PARAGAUY EN URUGUAY.

Ons bly by Hasta la Pasta net oos van Asuncion, hoofstad van Paragauy. Die eienaars is Switsers en trek die Duitsprekende ‘overlanders’ na hul oase en bly soms vir weke daar oor. Ons gee ons voertuig in vir herstelwerk en ‘n diens in Asuncion en neem ‘n bus terug na die kampplek. Die busbestuurder onderneem om ons te wys waar om af te klim om van busse te verwissel. Om ons speel daar ‘n toneel af van uitbundige studente, huisvroue wat huiswaarts keer en smouse wat tot op die ryvlak van die pad uitstal. Dit lyk telkens asof ons ‘n kliënt gaan raakry voor ‘n stalletjie of waar iemand sommer voor die bus inloop met so ‘n nonchalante houding. Die busbestuurder trek nie ‘n spier nie…dit is maar hoe dinge hier gebeur! By party busstoppe spring luidrugtige smouse op die bus en werk hulself deur tot agter in die bus en spring by die volgende busstop weer af. Op ‘n stadium is daar seker agt smouse op die bus met ‘n warrelmoes van klanke. Hulle rol hul eie herhalende klanke in die agterkant van hul keel sodat net ‘n onverstaanbare geroggel uitkom wat seker die naam van die produk is wat hulle wil verkoop. Natuurlik vergeet die busdrywer om ons te waarsku waar om oor te klim en ry ons ver verby die afklimpunt. Ons is verplig om weer ‘n bus terug te neem en mis ons aansluiting. Heelwat later kry ons  die volgende bus. Gelukkig het ons sitplekke want die bus laai net meer en meer mense op want nou is ons in piek verkeer. Net as ons reken die bus is nou oorvol laai die busbestuurder nog ‘n paar mense op. Een daarvan is nog ‘n smous wat hom deurwurm tot by die deur agter en daar afklim. Dis alles interressant, maar sjoe dis vermoeiend.

Hanlie en Viv by ons kampplek by Hasta la Pasta
Ons kuier by die vars produkte mark by St Bernadene op die plaza

By die kampplek  kry ons ‘n lekker verassing! Viv en Hanlie het by ons aangesluit en so kuier ons intens, lus vir Afrikaanse geselskap, tot diep in die nag. Ek kry ons kar 2 dae later met die kar wat voel soos ‘n nuwe sikspens. Die remme werk perfek. Maar seker sowat 200km later begin die remme weer neuk en keer die ou probleem weer terug, darem minder intens as voorheen. In Suid Afrika twee weke later verklaar Pieter, by my werk, waarom my remme so eienaardig gemaak het. Uiteindelik kry ek antwoorde en maak alles skielik sin. Ons benodig ‘n kompleet nuwe dryfas. Maar terug by die hede!

Surucua Trogon

 

Roseate spoonbill

Ons ry suid en word voorgekeer by ‘n padblokade maar my motor se registrasiedokument met sy Paragauy invoer permit is weg. Die polisie kyk na Viv se dokumente en laat my ook ry. Na ‘n lang soek besef ons dat ons die dokument in ons kamer by Hasta la Pasta moes gelos het. Dit moet die papier wees wat soos kamerreëls lyk was ons beide net daar gelos het. Ons kontak Fabian en hy bevestig dat die dokumente wel nog in die kamer is. Ons ry terug, kry die dokument en kry die Gerickes 5 uur later waar hulle ‘n kampplek op ‘n sokkerveld agter ‘n garage gekry het.

Ons het telkens gevind dat dit baie ontwrigtend is om in ‘n kamer in te trek wanneer aan ons voertuig gewerk word. Skielik is dinge nie meer op hul plek nie en dit is dan maklik om dinge te vergeet.

Die plase in die vleigebiede is ‘n algemene gesig
Hier boer hulle hoofsaaklik met water

Die omgewing waardeur ons ry die volgende dag is pragtige plaas gebiede waar hoofsaaklik met beeste en perde geboer word. Soos ons verder suid ry word die vleilande  al hoe meer . Die perde en beeste wei meestal in die water wat soms tot by hul maag kom. Dit pla hul nie en hul hou aan vreet. Van die plante dryf naamlik op die water.

Die perde en beeste eet die plantegroei wat op die water dryf

Ons draai in op ‘n sypad  en soek ‘n droeë kolletjie om te kamp.

Ons kamp waar ons ‘n droeë kolletjie kry

Om ons is water met heelwat voëls en selfs perde en beeste wat verby kom. Ons kry ‘n plek tussen die pad en ‘n plaashek. Van die boere kom verby en stop om te gesels. “Ja, julle is welkom om hier te kamp. Van waar kom julle?” vra hulle en rek hul oë wanneer ons hulle vertel…”legos” ver.

ddddd
Bare-faced Ibis

 

Southern Lapwing

Hier gebruik die boere perde om by hul vee te kom in die nat seisoen. Ons ‘stil’ paadjie blyk besiger te wees as wat ons gedink met ‘n paar motorfietse en selfs ‘n bus wat verby ry. Die passasiers verdraai omtrent hul nekke om te kyk wat hier aangaan. Almal is baie vriendelik maar ook nuuskierig.

“n Boer op sy rondtes
Gaocho (vaardig op ‘n perd)
In die reen seisoen kan slegs met perde die kampe bereik word
Limpkin

Ons ry paaie in die driehoek waar die Paragauy- en die Paranariviere bymekaar  kom. Hierdie is ‘n baie afgesonderde gebied met baie vleilande. Ons geniet die oorvloed  van veral watervoëls. Vir meer fotos van die voëls wat hier voorkom kyk Paragauy vleilande. Met geluk kry ons ‘n lekker kampplek langs een van die sytakke van die Parana rivier op kort groen gras.

Johan, Marianne en Hanlie by ons kampplek langs ‘n uitloper van die Paranarivier
Marianne vang verskeie piranas

Marianne vang 6 Piranas (die visse met die vlymskerp tande) in ‘n uur. Van die vis gooi ons terug maar die een verdwyn net, in die oomblikke wat ons wegkyk, ‘n raaisel want hierdie vis was ver van die water af!

Dit is vakansiedag, Santa Rosa dag en die Paragauyers hou fees. By Santa Rosa, die dorpie, word fees gevier met lekker musiek.

Die Santa Rosa ‘n vakansiedag en dit word gevier.
Die vleis word op ‘n baie primitiewe manier gebraai

Oral word vleis gebraai en kos voorberei. Die vleis word opgeryg in ‘n stok wat dan so teen ‘n helling langs die vuur  ingesteek word en telkins gedraai word. Die reuk van die vleis was aansteeklik.  Hulle hou van dans en kuier lekker saam met min alkoholiese drank. By ons sou ons gesê het die voggies begin praat maar hier is dit maar net die Latynsamerikaanse geaardheid wat praat.

Die inwoners  van Santa Rosa vier fees

Baie boere kom te perd na die fees. Beide die perde, die ruiters en die metgeselle is uitgevat in tradisionele drag. Ou mense en kinders kuier maklik saam.

Ons slaap weereens langs ‘n sytak van die Parana. Nie ver van ons is ‘n dorpie met ’n paar huise. Almal, of ten minste so lyk dit, kom kuier en ons is beindruk hoe gesofistikeerd en selfversekerd die mense is selfs hier in die verre uithoeke van die land.

Ons kampplek langs die sytak van die Paranarivier

Net voor ons wou stop vir middagete hoor ons ‘n slag. Erens by my agteras by die ‘sideschaft’ het iets gebreek. Wanneer ek petrol trap hoor ek net staal op staal klapgeluide. Op Viv se aanbeveling sit ek die voertuig in 4×4 en kry reg om die sowat 200km na die volgende stad, Encarnacion, te ry met net voorwiel aandrywing. Ons slaap in die agterplaas van ‘n hotel met baie lawaai reg deur die nag. Ons is bekommerd want dis vrydag, ons kar is stukkend en ons moet in 4 dae in Urugauy wees, 1200km weg. Die werktuigkundige is oortuig die wiel kan enige oomblik afval en sê hy sal die as moet afhaal om dit te herstel. Dit was net genade dat hy teen alle verwagting in vrydagaand die kar aan ons kon teruggee, ‘n tydelike oplossing.

Johan en Marianne by die stad Encarnacion met Posadas in Argentinië oorkant die Paranarivier

Viv en Hanlie ry noordoos na die Iguazuvalle en ons ry suid. Ons vertrek maar hoor allerhande nuwe geluide by die agterwiele en ‘hubs and nuts’ wat so warm word dat ek nie aan hulle kan vat nie.

Die eerste aand slaap ons agter ‘n pertrolstasie en die volgende nag by ‘n pragtige kampplek by Nuevo Berlin langs die Uruguayrivier. Ons was vroeg daar en kon toe besluit wat om terug te bring na Suid Afrika en begin pak.

Ons slaap langs die Urugauyrivier

Die voorlaaste nag slaap ons so te sê op die strand by Colonia met die stad se ligte oorkant die baai. ‘n Ouerige egpaar kom gesels: “Urugauy is nie meer dieselfde nie. Nou die dag hoor ek van ‘n seun wat sy fiets die nag op hul grasperk gelos het en die volgende dag was dit weg…sowaar gesteel!” sê hy kopskuttend. Ek en Marianne kyk vir mekaar en besluit om niks te sê nie. Wonder wat is nuus in hul koerante?

Slaap by Colonia by die strand
Uitsig uit ons voertuig

Die laaste aand slaap ons weer by die huisie op die plaas en pak finaal vir die veerbootrit na Buenos Aires en ons vlug terug. Dit reën katte en honde!

In Buenos Aires slaap ons weereens by Hotel Babel in San Telmo. Ons gaan op ‘n straatkuns toer in Palermo en word intens bewus van die omvang en gesofistikeerdheid van hierdie kunsvorm en die respek wat die kunstenaars vir mekaar het. Net die swak werke word gevandaliseer. Kunstenaars, elkeen met sy eie boodskap en styl, kom van oral in die wêreld. Alles onwettig maar tog ‘wettig’. Selfs die polisiemanne staan en kyk vir ‘n nuwe kunswerk. Hier moet jy kies tussen ‘n gevandaliseerde oop muur of een met ‘n ‘kunswerk’ op. Interressante verwikkelinge wat seker alle stede se voorland is.

Ons gids oor straatkuns in Palermo in Buenos Aires
Straatkuns in Palermo in Buenos Aires
Sokker is hier ‘n afgod
Satiere en kritiek op Trump..Statue of Liberty rol haar oë hemelwaarts.

 

Restaurant met ‘scrap metal’ as versiering. Toe vir besigheid. Saans gloei en beweeg sy oë
Dieselfde restaurant oop vir besigheid
Straatkuns oor 6 verdiepings. Wat anders as ‘n Selfie?

Ons vlieg huistoe via Sao Paulo

‘n Klein gedeelte van Sao Paulo uit die lug.

Groete van Johan en Marianne