BLOG 19 (1ste van Suid Amerika 2019) CUSCO EN MACHU PICCHU

PERU: CUSCO EN MACHU PICCHU MEI 2019

Ons onderbreek ons vlug na Cusco vir ‘n kort besoek aan Lima, hoofstad van Peru. Ons bly in ‘Hostel Flying Dogs’ oorkant die Kennedy park in Miraflores. Hierdie park wemel van katte, wat hier ‘n veilige heenkome vind en hulle min steur aan al die aandag van die mense. Die park is netjies versorg en baie skoon. Waar ons gestap het tot by die toeriste hotelle op die kus van die Stille Oseaan was daar nie ‘n enkele papier wat rondlê nie. Daar heers ‘n kultuur van netheid! Later blyk dit tog dat van die ander gebiede in Lima maar vuil is met ook heelwat slums teen die koppe en oorkant die rivier.

Lima is langs die Stille Oseaan met sy koue seestroom en gevolglik meestal mistig of swaar bewolk

 

Naglewe op die ‘kranse’ langs die kus

 

Oppertunistiese pelikane in die see by die visnette

 

Katte het hier in Kennedypark het ‘n koningslewe

 

Historiese geboue is orals te sien

Lima is ‘n baie groot stad van 10 miljoen mense, met 16 distrikte wat elkeen hulself bestuur met hul eie dienste en polisie.

Lima wat in 1550 die belangrikste stad in Suid Amerika was, is in die woestyn gebou waar twee riviere uitmond. Miraflores, die meer moderne gedeelte van die stad, is waar die jong mense en toeriste uithang maar die ou stad, alhoewel meer vervalle, is waar die pragtige geboue en museums geleë is. Weens gereelde aardbewings oor die eeue is al die huidige geboue sedert 1900 herbou.

Cusco was die hoofstad van die Incas tot die Spanjaarde hul kultuur verwoes het in 1536. Die Incas was ‘n volk van 10 miljoen wat oor die volgende eeu so uitgeroei is dat slegs 600 000 oorgebly het. Cusco het, in teenstelling met Lima, wel geboue wat 400 jaar oud is. Die ou stad om die Plaza de Armes is indrukwekkend met ‘n spuitfontein en goue standbeeld van Pathacutec die laaste Inca heerser wat ook Matchu Picchu gebou het. In Cusco is die suurstof maar min aangesien die stad 2330m bo seevlak is.

Marianne by die Plaza de Armas in Cusco

 

Plaza Esplinar naby ons Ecopackers hostel

 

Pathacutec die laaste heerser van die Incas

 

Vroue in tradisionele drag met  alpaccas

Ons was gelukkig om kultuur optogte op die plaza de Armes te sien ter ere van hul ‘Saints’. Die  dansers dra indrukwekkende kostuums en is aktief en spontaan…’n fees van kleur, beweging, maskers  en musiek.

‘n Fees op die Plaza de Armes in Cusco ter ere van hul ‘Saints’

 

Die drinkers

 

Selfs kinders is deel van die optog

 

En die pragtige danseresse

Ons gids, David tel ons om 4 uur die volgende oggend op om Matchu Picchu te besoek. Ons ry na die dorpie Oilantaytambo waar ons die trein kry om 6 uur die oggend. Om by Machu Picchu te kom moet ons of stap, wat te ver is, of per trein ry aangesien daar geen paaie is na Aguas Calientes, ‘n dorpie net onder Machu Picchu.  Dit is mistig en reën tussendeur maar ons kan tog die indrukwekkende kranse langs die spoorlyn sien aangesien ons trein ‘n glas dak het.

Die trein met sy glasdak

By Km 104 klim ons af en stap bergop tot waar ons die middag aansluit by die bekende tradisionele 4 dag staproete. Die paadtjie is ‘n Inca staproete wat destyds deur hulle gebruik is vir hul hardlopers om boodskappe te bring. Elke 3 km was daar ‘n slaaphut waar ‘n volgende hardloper gewag het. Wanneer so ‘n boodskapper ‘n km weg is blaas hy op sy seeskulphoring sodat die volgende hardloper kan wakker word en homself kan regkry om die boodskap verder te vat.

Marianne en ons gids op die Inca pad op na Winay Wayna

 

Die trein ver onder
Pragtige plantegroei

Die pad is steil met regaf sykante in digte woude met baie mosse, varings en orgedieë. Ver onder sien en hoor ons hoe die treine verby kom. Tussendeur reën dit wat die kleure van die plantegroei, ligene en rotse uitlig. Ons bereik die Inca reüne Winay Wayna (vertaling “Forever young”) wat teen die steil hange van die berge gebou is. Wat ‘n besondere gesig!

Winay Wayna was ‘n administratiewe sentrum van die Incas, maar veral vir die bestuur van die boodskappers.

Ons sluit aan by die 4 dag staproete en stap verder na Intipunku (“Sungate”). Op ‘n stadium stop ek vir fotos en sien hoe ‘n Chinese meisie agter my op ‘n klip gly en stort af, in digte plantegroei, oor die afgrond. Haar vriend wat haar probeer gryp gly ook oor die afgrond. Êrens onder het die plantegroei hulle gekeer. Ons hoor hul paniekerige uitroepe, maar kan hul glad nie sien nie. Die gidse het oorgeneem en ons het voortgestap, baie bewus van die afgrond langs ons. Die reddingspanne met toue en reddingstoerusting het hulle heelwat later kom help en hulle gered. Glo net ‘n paar skrape opgedoen.

Uitsig vanaf die Sungate

 

Ons kyk af op Machu Picch

 

Johan en Marianne by Machu Picchu

Ons bereik die “Sungate” en sien vir die eerste keer Machu Picchu ver onder ons….wat ‘n gesig! Ons stap af tot net voor die hoofhek waardeur ons die volgende oggend sal ingaan en kry wonderlike fotos van die reünes in die laaste lig. Per bus ry ons af tot by Aguas Calientes, ‘n dorpie wat net per trein bereik kan word.

Aguas Calientes is ‘n dorp van hotelle en restourante ingedruk in die diep vallei langs die Rio Urubamba

Die toeriste dorp Aguas Calientes, gebou vir die massas toeriste wat Machu Picchu besoek. Hierdie dorp kan net per trein bereik word

Die volgende oggend 4 uur gaan staan ons in die ry vir die eerste bus op na Machu Picchu om 05h30, om so van die eerstes op die bus te wees sodat ons om 06h00, as die hek oopmaak voor die massas Machu Pucchu kan beleef. Ons ervaar en geniet die Inca stad met sy ryke kultuur.

Die ingenieurs beplanning, wat hier toegepas was beide om vloedwater te beheer en om water te voorsien, beindruk ons baie. Boonop moes hulle die grond stabiliseer sodat die geboue nie in die vallei afgly nie.

Hier het 300 tot ‘n maksimum van 1000 mense gebly. Die geboue vir die priesters en heersers is met besondere vakmanskap gebou. Hul godsdiens was hoogs ontwikkel met veral die maan, maar ook die son wat aanbid is. Daar was defnitiewe klasse verskille wat tot gevolg gehad het dat die werkers kleiner was in postuur (minder goeie kos en baie fisiese harde werk) as die heersers en priesters, soos te sien in die grootte en hoogte van die deuropeninge.

Matchu Picchu

 

Die Sontempel met openinge wat georienteer is na die son se eklipse

 

Besondere bouwerk met groot gekapte rotse wat presies op mekaar pas

Ten slotte ry ons weer af na Aguas Calientes maar aangesien die treinwerkers staak is ons verplig om 12 km verder al langs die treinspoor te stap na die Hidro-elektriese stasie waar ‘n bussie vir ons wag. Ons ry ‘n lang ompad oor verskeie passe terug na Cusco, ‘n ekstra twee en half uur stap en drie ure ekstra ry (agt en half ure in plaas van 3 ure per trein).

Stap al langs die spoorlyn na ons bussie

 

Steeds pragtige natuurskoon

Dit was’n  lang dag maar ‘n besondere dag en ons voel so bevoorreg. Selfs die stap langs die treinspoor was toe die moeite werd (gelukkig ‘n geleidelike afraande al die pad)

Groete van Johan en Marianne