

SKEDELKUS – KUNENE TOERX 2019


Gedurende April vanjaar toer ons saam met vriende langs die Skedelkus in die Namib woestyn…Wat ‘n voorreg om hierdie verlate en onherbergsame, wilde kusgebied te leer ken. Ons ry in ons eie 4×4 as deel van ‘n konfooi van 12 goed toegeruste viertrek voertuie. Ons leer hoe maklik die natuur hier kan vat wanneer jy hom onderskat, maar sy skoonheid met jou sal deel as jy hom respekteer. Ons ry verby skeepswrakke waarvan die ‘Dunn Eden’, wat in die 2de wêreld oorlog gestrand het die bekendste is.


Aangesien die Skedelkus van Noord Namibië ‘n bewarings- en konsessie gebied is, kan slegs ‘n paar bevoorregtes hierdie gebied elke jaar besoek en dan slegs as deel van die konsessiehouer se toere. Die owerhede hou spesifiek getalle laag aangesien hierdie kusgebied baie sensitief is teen oorgebruik.
Bertus en Esmé van Zyl het ons genooi om saam die Namib, noord van Swakopmund te verken. Meeste van ons medereisigers ken ons goed veral deur gereeld saam fiets te ry. Hierdie groep medereisigers, wat meestal in hul sestiger jare is, het vergeet hoe om oud te word en is fiks en aktief. Boonop het almal ‘n liefde vir avontuur en geniet die lewe…lekker mense om mee saam te kuier. Van avontuur het ons heelwat gehad.



Ons het mekaar in Swakopmund gekry en saam met ons gids, Jakkals, tot by die Kunenemond gery. Saans het ons langs die see of agter duine gekamp om weg te kom van die wind. As ons so ry is daar geen tekens van die beskawing nie, net die rowwe see aan die een kant en klip en sand woestyn met sy kleur skakerings en patrone aan die ander kant. Stop ons, sien ons die plante, insekte en diere wat geleer het om hier te oorleef. By tye ry ons deur velde ligene wat oorleef van die kenmerkende oggendmis van die Benguela seestroom. Insekte wat lyk soos toktokkies draai hul rug na die wind om die kondensasie op hul rug op te vang

Net as ons dink hier is absoluut geen lewe nie sien ons ‘n springbok of gemsbok of jakkals of rooikoplewerk in die duine. Langs die kus kom swerms kormorante verby gevlieg en soms reiers, flaminke en pelikane. Die voëls vlieg windop en kom stadig en laag verby. Menigde fotogeleenthede gaan verlore aangesien ons moet voortjaag na ons bestemming. Ons kry min tyd om van die ‘waders’ uit te ken..tog ‘n bietjie van ‘n frustrasie maar die natuur en die geselskap saans langs die vuur maak meer as op daarvoor.





Die namibsand laat nie toe dat enigeen, selfs nie eers die Landcruisers, hom onderskat nie. Net as jy dink jy is die sand baas, bring hy jou aarde toe en val jy vas en moet jy uitgesleep word. Ons het langs ‘n skuins strand vasgeval met die see wat so aan die kar wil vat-vat. Om los te kom moes ons seewaarts uitspin. ..’n nare gedagte met ‘n goeie einde.

By die Kuneneriviermond is dit koud en waai die wind sterk en gevolglik vertoef ons baie kort. Ons sien swerms pelikane, kormorante, flaminke en sterretjies in die vloedvlakte. Saans kamp ons agter ‘n duin waar dit windstil is. Ons ry deur die duine oos, weg van die see en moet telkens ‘n duin afgly aan die windaf kant. Die duine het interressante kleure en vorms, ‘n fotograaf se droom.






Ten slotte ry ons deur die Hartmansvallei na Purros waar die toer eindig. ‘n Paar van ons ry huistoe via die Etoshapanne en die Okavangorivier wat self sy eie bekoring het. Ons bly bewus van die besondere skoonheid van Namibië
Groete van Johan en Marianne

Nog ‘n paar fotos van ons rit terug huistoe



