
COLCAS CANYON, TITICACAMEER EN DIE REËNBOOGBERGE IN PERU
Met ‘n gehuurde Toyota RAV pak ons die tog aan na Arequipa, die 2de grootste stad in Peru. Arequipa is omring deur berge waarvan die vulkaan El Misti (5900m) nog aktief is en Chachani (6100m) steeds ‘n sneeubedekking het. Die stad staan bekend as die wit stad met sy indrukwekkende plein en wit geboue.


Een hele 2 hektaar blok word beslaan deur “Monesterio de Santa Catarina” vir nonne en bestaan reeds sedert 1580. Hoe die senior nonne hier gebly het word in detail uitgebeeld. Elkeen het haar eie persoonlikheid tot haar blyplek gevoeg waar sy in afsondering kon bid, slaap en kos maak. Die klooster was soos ‘n dorpie met sy eie nou straatjies, kapelle, parke en pleine met fonteine en beelde. Dit alles agter ‘n hoë muur.




Die hoogtepunt van ons besoek aan Arequipa was die museum waar die 14-jarige Juanita, die ys meisie, uitgebeeld word (wrapped and almost perfectly preserved by the icy temperatures for about 500 years). Sy is as Inca bo-op die berg, Nevado Amopata (6200m) lewendig vir hul gode geoffer. Dit was vir haar familie 520 jaar gelede ‘n eer dat sy met haar perfekte liggaam gekies is om eendag self ‘n god te wees. Sy moes self die week lange tog na die bergpiek klim saam met haar pa en ander godsdienstige leiers. Sy het heeltemal behoue gebly met naels, vel en hare nog intakt deurdat sy vir eeue gevries gebly het. Selfs haar organe het behoue gebly en so kon hulle met navorsing uitvind watter kos sy net voor haar dood ge-eet het. Na ‘n onlangse uitbarsting by die aangrensende vulkaan Sabancaya het die sneeu om haar gesmelt en is sy 1995 gevind, gelukkig nog half gevries.

Hier in die semi-woestyn hooglande besoek ons die Colcas Canyon wat heelwat dieper is as die Grand Canyon in Amerika. Sommige beweer dat hierdie, tesame met die aangrensende Cotohuasi ‘canyon’ die diepstes in die wêreld is? Dit is baie indrukwekkend. Ons stop by ‘n uitkykpunt 1600m bo die valleivloer oftewel 3700m bo seevlak en kyk hoe die Andean Condors uit die vallei opstyg en om ons vlieg. Hulle vlieg so naby dat ons kan sien hoe hulle vir ons kyk. Die condors vlieg snaaksgenoeg tussen 8 en 10vm op hul meeste verby die uitkyk punt. Hierdie is ‘n soort aasvoël met ‘n reuse vlerkspan. Die mannetjie het ‘n wit kraag. Geen wonder die Incas het hierdie voël beskou as hul god van die hemelruim.



Ons slaap by die dorpie Cabanaconde op die rand van die onderste deel van die ‘canyon’. Die Hippie hostel Pachamama, in die dorp, het die lekkerste avocado en mango slaai wat boonop pragtig opgedis word. Wat ‘n verassing om uit hierdie basiese kombuis so ‘n kunswerk te sien kom. Hierdie is ‘n vrolike, bond en kunstige hostel met ‘n lekker vibe. ‘ Hasta manjana’-tot more, hulle is nie haastig nie.

Van hier in Cabanaconde kan die dapperstes afstap (oftewel 1500m afklim) tot by Sangalle, ‘n oase onder by die Colcasrivier. Sangalle het sy eie huisies en kampplekke en selfs verskeie swembaddens wat elke nag leegloop en soggens weer gevul word met vars fonteinwater. Sangalle kan net te voet bereik kan word en alle boumateriaal moet per donkie of menskrag afgedra word.


Aan die oorkant van die ‘canyon’ is ook ‘n paar klein dorpies teen die hange waar intensief op terrasse geboer word. Die pad daarheen is nogal ‘n beproewing, ‘n smal grondpad uitgesny uit die steil wande en kranse. Oral is tekens dat groot klippe soms op die pad val en gedeeltes soms wegkalf. Op ‘n stadium was ek bang dat my Toyota RAV nie genoeg krag het om die bulte uit te kom nie en moes ek noodgedwonge die haarnaald draaie met spoed benader. Ek kan my net voorstel wat sou gebeur het indien ek nie verder kon kom nie en sou moes agteruit ry in hierdie smal paadjie met sy los gruis en intemiderende afgronde. Gelukkig kom net twee voertuie van voor af in drie ure.


Ons slaap by die dorpie San Juan aan die oorkant van die ‘canyon’ in ‘n skoon kamer maar tussen bourommel. Ons maak saans kos tussen die “scaffolding” in die eienaar se kombuis met ‘n pragtige uitsig oor die vallei. Dit is Peru met sy kontraste. Soggens stap ons af na die Oase Sangalle, ‘n meer genadige 400m af en geniet yskoue vrugtesap langs die swembad. Die terugtog is uitdagend en uitputtend met pragtige gesigte oor die ‘canyon’ en die pieke van oor die 5000m.
Iticacameer is die hoogte groot meer in die wereld op ‘n hoogte van 3810m bo seespieël. Ons besoek die drywende eilande Uros. Hier het hulle met drywende turf en riete eilande geskep waarop hulle bly in riethutte. Alhoewel die eilande deesdae baie komersieël is, is dit tog nog lewensvatbaar en ‘n goeie bekostigbare alternatief. Drywende toilette wat weekliks gediens word maak dit deesdae higiënies meer aanvaarbaar. Ook hul bote word van riet gebou en van hulle is baie dekoratief.



Ons slaap ‘n nag by ‘n Quechua familie op die Isla Amantani in hul huis en eet saam met hulle. Isla Amantani met sy bevolking van 5000. Beide vir hulle en vir ons was dit ‘n eerste. Saam met ons bly ook Guiseppe, ‘n Italianer en sy Spaanse vriendin Esther. Die familie, by wie ons bly, se wêreld is maar beperk tot wat gebeur om en op hul eiland. Baie gasvry, sout van die aarde tipe mense. Die twee tempels op die twee hoogste punte is vir Pachamama (moederaarde) en Pachapapa. Toerisme en landbou is hul hoof aktiwiteit en hul gewasse word geroteer in kwarte. Met ander woorde elke 4de jaar dieselfde gewas of vee op ‘n spesifieke stuk grond. Lyk nie asof die boere self enige keuse het nie. Ook kom daar geen honde op die eiland voor nie.

Laastens kuier ons op Isla Taquile, ‘n pragtige ieland met sy 2200 inwoners. Nie een van die eilande het enige voertuie nie en donkies is hul hoof vervoermiddel.



Ons stap op na Vincunca, die ‘Rainbow Mountain’ op ‘n hoogte van 5050m. Die lugdruk vang ons maar so ook die honderde ander besoekers. Hierdie kleure het ontstaan weens natuurlike minerale en verwering en is eers onlangs ontdek, naamlik in 2015. Aardverwarming het veroorsaak dat die sneeu smelt en so die kleure ontbloot. Die berge is baie afgeleë en van onder is die kleure minder prominent wat moontlik ook verklaar waarom die skouspel onlangs eers ontdek is. Bo is dit koud maar die lug is skoon en helder en die berge staan helder uit. As agtergrond sien ons ‘n gletser en sneeubedekte pieke..Wat ‘n gesig! Hierdie berg word deesdae beskou as een van die wêreld se “must do” items. Ons stap na die “Red Mountains” met weer ander uitsigte, met prominente rooie en groene.




In die Sacred Valley naby Cusco besoek ons eers Moray, die Inca Laboratorium waar die Incas ge-eksperimenteer het deur gewasse op verskillende terrasse te plant. Hulle het drie groot arenas oftewel gate gevorm met die terrasse in sirkels wat so verskillende mikroklimate op elke vlak gevorm het soos verder af beweeg is. So kon hulle hul verbouing van gewasse by die talle Inca stede optimiseer.

Die Inca dorpie Ollantaytambo is reeds sedert die 13de eeu bewoon en is tans die beste voorbeeld is van Inca stadsbeplanning. Hoog bo die dorpie is twee indrukwekkende Inca vestings wat selfs die Spanjaarde op ‘n slag oorwin het, voordat hulle op ‘n latere geleentheid wel verslaan is. Die waterwerke is veral baie interessant. Ons geniet die dorpie met sy ou geboue, pragtige kleure en lekker eetplekke.


Laastens besoek ons Salina del Maras, ‘n soutaanleg teen die hange van die berge. Hier ontspring ‘n soutwaterfontien en word die water versprei na verdampingspanne wat kommersieël ontgin word deur die inwoners van die dorpie Maras.




Ons volgende Blog sal meer vertel van ons besoek aan die Amasone.
Groete . Johan en Marianne