BLOG 21: AMASONE (3de blog van Suid Amerika 2019)

Cock of the rock, Nasionale voël van Peru

AMASONE IN PERU

Om 04h30 die oggend word ons by ons hostel in Cusco opgetel deur Angel van Manu Rainforest Expeditions Peru. Ons is oppad na die Manu Nasionale Park in die ooste van Peru. Hierdie park strek van die pieke van die Andesberge tot onder in die Amasone. Seker 95% van die park is ongerepte tropiese woude met verskeie stamme wat nog geen kontak gehad het met die beskawing nie.  Boonop is hierdie die park met die grootste verskeidenheid plante, diere en voëls (1050 spesies voëls) in die wereld.

Telkens kry ons gedeeltes in die pad wat afgeskuif het

Vir die volgende sewe ure ry ons kronkelpaaie, soveel so dat ons nek-, maag- en rugspiere die volgende dag die oefening gevoel het. Die eerste twee ure ry ons op teerpad deur die Andes hooglande totdat die teerpad ophou en ons op ‘n ompad geneem word. Die probleem is dat die ompad ‘n nuutgeskraapte pas is met afgronde tot by ‘n dorpie ver onder in ‘n vallei. Om by ander voertuie van voor verby te kom, om nie eens van busse te praat nie, is ‘n uitdaging en die verkeer hoop gereeld op. Dan volg ‘n oomblik van skaakmat totdat een bestuurder kopgee en “reverse”. Vir my voel dit telkens asof ons met ons linkerkantste wiele oor die afgrond ry om verby te kom…sien net die rivier ver onder – nogal ‘n skrikwekkende gedagte. Tog lyk dit asof die bestuurder en die ander passasiers nie dieselfde illusie en ongemak as ons beleef nie.

Bergwoude (cloud forests) ver onder

 

Bromides groei op die stamme van die bergwoude

Na ontbyt ry ons die Manu Park binne. Vroeg oggend is dit baie mistig met pragtige bergwoude (cloud forests) met varings en Bromides wat in die reuse bome groei. Ons ry steeds oor passe verby watervalle, oor riviere en met talle vergesigte oor die valleie en woude ver onder. Ons stop en sien die besondere ‘Cock of the Rock’ die nasionale voël van Peru wat net in “cloud forests” op ‘n spesifieke hoogte bo seespieël voorkom. Ons slaap by die eenvoudige Pono Lodge. Die volgende dag ry ons dieper die Amasone in en maak die vallei oop -tot waar die pad ophou by ‘n paar winkels. Verder kan ons nie per voertuig ry.

Waar die pad ophou klim ons op ‘n boot

Ons klim in ‘n gerieflike boot met ‘n dak. Ons is die enigste gaste. Wat ‘n voorreg. Per boot ry ons stroomaf tot by ‘n klipstrandjie en stap deur die woude na ‘n lagune met baie voëls. Tot hier kom daar blykbaar nog heelwat toeriste maar verder stroomaf weinig. Op ‘n houtvlot vaar ons op die laguna en sien die pre-historiese voël, die Hautzin.

Die pre-historiese voël die Hautzin

Ons bly by die Manu Rain Forest Lodge ‘n verdere twee ure stroomaf langs die Rio Alto Madre de  Dios. Hier is daar geen telefoon seine of elektrisiteit of ander toeriste nie…net die woude met sy bedompigheid, insekte en baie geluide. Hier berei hulle die lekkerste tradisionele etes voor by flits- en kerslig in ‘n oop kombuis. Darem ‘n houtvloer en dak. Daar is heelwat ape bo en om die kombuis en die het glo nog nooit hulself in die kombuis gehelp nie….blykbaar is hul natuurlike kos genoeg.

Ons gidse Angel en Sa-ul het hier grootgeword as die oudste seuns van 9 kinders. Hul Pa het hier met groente en veral later met piesangs geboer. In 1973 het die regering die hele gebied as natuurresservaat geproklameer en het  hul Pa die reg gekry om hier toerisme te bedryf.  Toe hy jare later oorlede is het sy jong seuns die bedryf uitgebrei en later nog broers en susters by die besigheid betrek. Hul ma Theresa het aangegaan met die piesang boerdery. Hulle het ook die reg gekry om hier diep in die woude twee lodges te bou op grond van hul oorsponklike eiendomsreg. Die broers se boskennis en waarnemings vermoë het ons verras. Sa-ul het byvoorbeeld  pappegaaie gesien, wat hy met ‘n teleskoop vir ons uitgelig het. Selfs vergroot in die teleskoop was dit soms vir my moeilik om die pappegaaie raak te sien…hulle lyk net soos blare!

Tree house Lodge
Marianne en Sa-ul eet ‘n tradisionele gereg

Ons slaap ‘n verdere 3 nagte by hul ander lodge, die Treehouse Lodge. Om daar te kom vaar ons met ‘n kleiner 00pdak boot  stroomaf en daarna ‘n driekwart uur met die Rio Sinquireni op. Die lodge is eenvoudig met kamers wat op pale gebou is en weggesteek is in die digte woude sowat 50m van die rivier..baie mooi!

Dis hier maar moeilik om die diere en voëls te sien aangesien die woude so hoog en so dig is en hul boonop menssku is.  Tog hoor ons hulle en kry ons ‘n goeie idee van die lewe hier in die woude. Hier in die bos is dit baie vogtig en moet ons met Gumboots loop vanweë die modder.

Tarentula

Tydens een van ons nagstappe sien ons verskeie insekte en onder andere ‘n Tarantula so groot soos‘n man se vuis. Sa-ul lok hom uit sy holte in die grond met ‘n stokkie en die tarantula reageer aggressief. Sa-ul stop op ‘n stadium en kap met sy mashetti ‘n stuk bamboes af, sodanig dat dit ‘n hol pyp vorm wat net een kant oop is. Terug by die lodge sit hy hoender stukke met speserye, net so droog, in die bamboes en maak hy die oop kant toe met bigoa blare. Hierna word dit vir ‘n driekwartuur in die vuur gesit. Die bamboes het vog vrygestel waarin die hoender gekook het. ’n Heerlike gereg met rys en groente en ‘n baie lekker sous.

Sa-ul en sy vrou Naomie gooi hoender in die bamboes om dit op die vuur gaar te maak. Hulle seël die bamboes met Bigoa blare.

 

Sun Bittern by die Tree lodge wat mak is.

Nog ‘n gewilde gereg is ‘Joanne de pollo’ oftewel hoender en groente gebraai op die oop vlamme in bigoa blare. En dan natuurlik eet ons alle denkbare soorte tropiese vrugte, groente en plataanpiesangs.

Toe die son die derde aand by die Treehouse Lodge sak, begin dit reën soos ons dit nog nooit beleef het nie..hard en aanhoudend reg deur die nag. Toe ons wakker word is die rivier by ons. Die rivier het oornag met 3m gestyg. Sa-ul het later in die boot gaan slaap om te keer dat die boot nie wegspoel nie en het nat gereën! Die rivier was die afgelope reënseisoen blykbaar nooit so hoog nie en dit nogal in hul droeë seisoen. My en Marianne se verbeelding het op loop gegaan en ons kon sien hoe ons hier vir weke vasgekeer word en net sal vrugte eet!

Na middagete is die rivier 2m laer en vaar Sa-ul en die bootman na die ander lodge om die groter boot te gaan haal. Op die ou end het ons met redelik min drama die ander lodge bereik en kon ons die volgende dag terugry na Cusco met dieselfde smal en scary pas..

Sowat ‘n halfuur se ry buite Cusco is die dorpie Ccaccallollo waar die vrouens Alpaca- en Llamawol was en spin. Die spinwerk word met die hand gedoen op ‘n tol. Die hele dorpie se vroue is betrokke en brei en weef pragtige truie, serpe en musse. Ons besoek die dorpie saam met Angel se vrou wie se ouers in die dorpie bly en koop vir twee van ons dogters sagte Alpaca truie. Ons ry terug in ‘n plaaslike bus saam met die locals.

Die dorpie Ccaccallollo bekend vir sy weefwerk en ander wol handwerk.

Vir die tweede gedeelte van ons Amasone toer vlieg ons na Puerto Maldonado by samevloeiing van die Rio Madre de Dios en die Tambopata riviers. So ‘n paar ure stroomop in die Rio Tambopata is die Colpass Tambopata Inn waar ons vir 3 nagte bly. Heelwat meer luuks as in Manu. Die lodge is langs die Tambopata Nasionale Park in die suidooste hoek van Peru naby Bolivië. Hierdie tyd van die jaar is daar min gaste en kon die gidse ons voluit trakteer met ‘n baie professionele en vol program. Wat het ons alles gedoen?

Ons kamer in  Collpas
  • Nagrit op die boot op soek na die wit cayman (platbek krokodil). Met die flitslig sien ons die oë naby die kant en klim Jerson, die gids uit en gryp hy die cayman in vlak water agter sy nek. Elkeen wat wil kry kans om die cayman versigtig vas te hou. Hy vertel ons van die siklus van hierdie cayman Hierdie een meter lange cayman kan ‘n mens se vinger afbyt.
  • Marianne hou die caymen vas wat ons gids in die donker gevang het.

     

  • Nagstap met spinnekoppe (weer tarentulas) en ander insekte en natuurlik die geluide.
  • Ons ry met kajakke stroomaf oor ligte stroomversnellings en natuurlik eindig almal in die water, nie weens die stroomversnellings nie maar weens jong mense en soms ouer mense met te veel energie.

 

  • Ry met kajakke stroomaf in die Tambopatarivier.

     

  • Ons vaar met ‘n sytak op en stap deur die woude na ‘n hoefystermeer (‘n meer wat oor gebly het toe die rivier lank gelede ‘n draai uitgeskakel het en kortpad geneem het). Hier vang ons vis..Paranas.
  • Dagstappies deur die woude
  • Voëls kyk ook in die vrugteboorde stroomaf
  • En die hoogtepunt die besoek aan die “Macaw clay lick” op dag 1 en weer op dag 3.

Vir laasgenoemde aktiwiteit vaar ons 05h30 stroomop tot by die begin van die park waar ons gids aan wal gaan en ons registreer by natuurbewaring. Ons ry ‘n verdere 2 ure met die mis wat hang oor die rivier en die son wat telkens deurbreek. ’n Pragtige gesig. Deurentyd kyk ons vir voëls en diere maar veral vir jaguars wat hier slegs op die oewer van die rivier gesien kan word waar hulle capybaras jag. Ons sien wel die capybaras maar nie die jaguars nie. Capybaras is famielie van die rot (rodent) maar groot met web voete..dus ook ‘n goeie swemmer. Kan tot 66kg weeg.

 

Capybaras

Langs ‘n verharde modderwal stop ons oorkant die rivier en sien hoe massas bloukop pappagaaie en ‘n paar ander op die bome kom sit. ‘n Paar waaghalsiges vlieg af na die “lick” om sout en minerale te  kom eet. Hulle het dit nodig vir hul spysvertering weens die tipe vrugte wat hul eet. Telkens vlieg hulle op as ‘n roofvoël verby vlieg.

 

Bloukop pappegaaie eet klei vir die minerale wat hulle nodig het

Ons vaar stroomaf en stap deur die bos na die “Macaw clay Lick”. Hulle het nog nie gekom nie en ons eet ontbyt. Hier is ‘n afgekampte gedeelte waar ons 50m van die “lick” kan staan tesame met ander toeriste. Ons gids, Jerson hoor dat ‘n ander boot ‘n jaguar gesien het op die oewer daar waar die mis dig was vroeër  die oggend en hy roep ons bymekaar om jaguar te gaan soek vir seker ‘n uur en ‘n half…  onsuksesvol. Terug by die “lick” begin die Macaws opdaag. Ons sien 3 verskillende soorte Macaws, groot voëls wat eers bo in die bome sit en later een een afvlieg na die “lick”. Wat ‘n gesig om seker 50 of meer Macaws te sien. Meeste sit in die bome maar sommige sir op die “lick”, besig om minerale te eet.  Ons is terug by die lodge net betyds vir nog ‘n lekker tradisionele ete.

Macaws by die”Clay lick” Drie soorte Macaws op die foto

 

Macaws in vlug

Maar ons wou weer die Macaws sien. Weer was dit baie besonders maar tog met ander lig en en nog een ander soortacaw. Op pad terug kyk ons na twee Orinco ganse op die wal en skielik  sien die jong fransman van Parys, Alexis wat saam met ons in die boot was, die gesig van “n jaguar wat bo die grasse uitloer. Vir 10 minute stap die wyfie jaguar met haar 2 jarige welpie (tiener) langs die oewer. Ons volg per boot alhoewel ons weens stroomversnellings en stompe in die rivier ‘n entjie van die wal moes wegbly. ‘n Baie seldsame “sighting” Ons voel baie bevoorreg.

 

“n Jaguar wyfie en haar 2 jaar oue welp

Die besoek aan die lodge was ‘n groot voorreg en ons sien baie voëls.

Johan saam met die personeel op die boot

Ons slaap ‘n verdere 2 nagte naby Puerto Maldonado by Sotupa Lodge maar rus en kyk oor die rivier. Marianne sit vir lang tye en wag om fotos te neem van die Hummingbird wat elke nou en dan opdaag.

Humming bird: Pale-tailed Barthroat

Saam met die eienaar Jean Pierre stap ons deur die woude en hy wys ons die geheime van die bos.

Vlinder by in die woude by Sotuba Lodge

-Blare wat die alpaca wol  kan skoonwas en ander waarmee hul die wol kleur. Na hy die blare gevryf het met water was die een palm van sy hand helder pers en die ander rooibruin.

-‘n Blaar wat as jy dit opvou en los ontvou dit oor ‘n paar sekondes heeltemal na sy oorspronklike vorm. Die locals gebruik die sap soos Viagra.

-Die blomme van die Balsaboom hou amper ‘n koppie reën vir baie lank en is ‘n bron van water vir insekte, diertjies en apies.

-kruies soos koljander groei hier wild.

-Die Dragon  Blood boom se stam gee ‘n rooi sap af as hy gesny word en wat as jy die sap vryf  vorm ‘n salf  wat wonde genees. ‘n Druppel in ‘n glas water help vir maagsere.

-Die 3 grootste bome in die woude word gereeld deur weerlig geslaan. Die Brazilian Nut en Keapoc bome dissintegreer met so ‘n weerligstraal maar die Iron Wood met sy super harde hout kom niks oor nie, vandaar sy naam as die vader van die woud.

 

 

Die Oropendula is ‘n bekende in die woude. ‘n groot lawaaierige voël met ‘n groot nes

 

Blue-crowned Trogon

Ons was verstom deur die woude en kan sien hoe inboorlinge maklik hier oorleef sonder inmenging van die beskawing. Daar is in die Manu Park nog heelwat inboorling stamme wat nog geen kontak met die beskawing gehad het nie en ander wat die beskawing doelbewus vermy.

Ons volgende bestemming is Brazilië

Groete van Johan en Marianne