BLOG 23 : SALVADOR EN DIE FERNANDO DE NORONHA EILAND

‘n Dorpie in Diamantinaberge

BLOG 23: SALVADOR EN DIE FERNANDO DE NORONHA EILAND (5de blog van Suid Amerika 2019)

Ons is tans aan die ooskus van Brasilië met verskeie groot stede soos Salvador en Recife, beide met amper 4 miljoen inwoners. Hierdie stede is bekend vir hul groot Afro-Brasiliaanse bevolkings, afstammelinge van die Afrika slawe. Hulle dra kleurvolle klere en het ‘n unieke kultuur van feeste en musiek. Hulle is spontaan en vriendelik maar ook baie armer as die inwoners van die meer verwesterde suide om São Paulo.

Die Saqui apie

Wes van Salvador in die provinsie Bahia word die droeë weste onderbreek deur ‘n bergreeks en     waar soos die naam aandui, destyds vir diamante gedelf is. Nou is dit ‘n gesogte vakansie bestemming met veral kunstenaars en hippies wat hier in die klein dorpies, soos Lençois, bly. Nader aan Salvador is dit tropies en reën dit baie.

 

Huisies met hul versierings

 

Johan en Marianne

 

Blikkies in ‘n kunsvorm op die ou bakkie

Ons geniet die kleurvolle dorpies in die Diamantinaberge baie en veral die alternatiewe kuns. Al die vensters en deure word buite spesifiek versier met vrolike material gordyntjies en die huisies word helder geverf. Sommige muurkuns is maar krities teen die samelewing en gebruik soms skoktegniek om hul punt te maak. Al hierdie dorpies het ‘n plein waar meeste aktiwiteite varal na sononder plaasvind. Party “cobblestone”paaie word saans omskep in gesellige strate van restourante.

 

Eetplekke in die dorpie Lençois

Ons bly in ‘n karavaanpark in die agterplaas van ‘n woning in Itapoa, aan die buitewyke van Salvador. Ons slaan ons tent op onder ‘n groot digte boom met groot blare op wit seesand. Ons tentjie is so klein dat ek skuins moet lê om in te pas. Vivian en Hanlie slaap in hul Land Rover camper en het dit heelwat makliker.  Ons ry met ‘n Uber na die ou stad van Salvador, Pelourinha net toe dit begin reën. Dit reën al hoe harder en teen die tyd wat ons naby die ou stad kom is van die strate onder water en moet ons Uber alternatiewe roete soek. In die stortreën word ons afgelaai en soek ons skuiling in ‘n klein winkeltjie. Dis oorvol en ons neem fotos van hoe die een meisie grimeer word.

 

In ‘n klein winkeltjie skuil ons teen die reen waar hierdie dame grimeer

Gelukkig hou dit na ‘n rukkie by tye op met reën en geniet ons die mense van die ou stad. Misdaad is hier blykbaar ‘n probleem en die toeriste polisie is oral, swaar gewapen, paraat met hul hande op hul wapens. Ons word deur ‘n ouer inwoner “gebrief” oor waar ons mag loop en waar nie.

Die polisie is paraat

 

‘n Beeld van spontaniteit

 

Elkeen doen sy eie ding

 

‘n Kosverkoper in haar tradisionele klere. Sy het haar eie aanhang soos blyk op die fotos teen die mure

 

Marianne die Afro-Brasiliaanse dame

 

Downtown Salvador

 

Downtown Salvador
Die slawe het sowat 2 eeue gelede hier in Salvador aan land gekom

 

Busstop

Terug by ons kampplek verwag ons dat ons tent weggespoel het met alles binne-in nat. Tot ons verbasing is alles binne die tent droog. Snags reën dit heelnag hard maar gelukkig bly ons droog in ons tentjie. Hoe verlang ons nie na Timbuktu ons safari motor nie.

Tipiese rivier toneel op pad noord na Recife

 

Ons eet saam met Vivian en Hanlie ‘n tradisionele gereg van garnale, vis en kasava in een van die klein dorpies. Die gereg het op tafel gekom nog borrelend van die hitte.

Ons ry al langs die kus na Recife sowat 900 km noord-oos. Op pad kamp ons telkens langs die see. By die eerste kampplek slaan ons kamp op, op ‘n stoep… ‘n welkome beskutting teen die reën. Die volgende aand kamp ons by Camp Jesus, die kampplek van Jesus wat self ‘n 60-jarige hippie is met sy eie streep kuns. Die kampplek is baie gesellig en netjies maar slegs ingerig vir tente.  Viv-hulle het toe maar oorkant parkeer, in ‘n muskietnes.  Die Marmoset apies is baie mak maar pla ons gelukkig nie aangesien hulle net vrugte eet. Ook hier is ‘n afdak waaronder ons kan kook en kan kuier tydens reënbuie.

 

Die Marmoset apies kom kuier by Camp Jesus

 

Marmoset aap

Die kus hier naby Recife is oop strande met palmbome. Daar is koraalriwwe diep die see in en gevolglik vorm die see hier ‘n lagune tussen die strand en die riwwe met gevolglike kalm water.

Noronha eiland:

 

Noronha eiland met sy bekende baken

 

Marianne op die Noronha Eiland

Vanaf Recife vlieg ons na Fernando de Noronha Eiland, 350 km van die vasteland. Ons bly  in Casa de Mirtis in ‘n donker neerdrukkende kamer met ‘n verskeidenheid skeef geplakte muurpapier. Twee beddens maak die kamer vol met ‘n paar spykers om die klere aan op te hang. Die sitkamer is vol versierings van alles denkbaar, van remskoene van trokke tot plastiese blomme tot ou visvang toerusting. Die verblyf is duur en net soos meeste ander dinge op die eiland, ‘n ware “tourist trap”. Die grootste gedeelte van die eiland is ‘n Nasionale Park en mag ons nie besoek nie  aangesien ons nie ‘n permit het nie. Tog moet ons ten duurste die bewaringsfooi betaal. Om te stap in die bewarings gebied moet mens op die eiland 5 dae vooruit bespreek en dan in elk geval ook die gids betaal teen 100 US dollar per persoon vir ‘n halfdag, ‘n ‘rip-off’.  Boonop praat niemand hier engels nie en sit ons op die lughawe soos pionne vir‘n driekwartuur in ‘n bus terwyl ‘n agent in Portugees hul toere bemark. ‘n Sogenaamde gratis busrit na ons losies!

“Spinner dolphins”

 

“Spinner dolphins” om ons boot

 

“Spinner dolphin”

 

Mannetjie en wyfie fregatvoëls.

 

Mannetjie fregatvoël

Toe ons ‘n dag later uiteindelik uitwerk hoe dinge werk geniet ons die eiland baie. Die seelewe is wonderlik met tot 20m sig en baie skole vis tot teenaan ons duikbrille. Ons gaan op ‘n bootvaart en sien honderde “Spinner dolphins” en verskeie seevoëls onder andere Fregatvoëls.

Marianne met massas visse om haar

 

 

Strande met helder water

 

Een van 5 spesies waterskilpaaie

Die strande is ‘n belewenis en die water is  helder turquoise en skakerings van bloue. Ons sien visse en skilpaaie in die helder water. Om by die een strand te kom moet ons met lere afklim tussen twee rotswande, maar op die regte tyd! Vir ‘n volle uur is dit afklimtyd en vir ‘n volgende uur opklimtyd. Alles word gereguleer. Na ‘n gefruseerde wag is die strand uiteindelik tog baie besonder met wit sand, regop kranse en baie visse en krappe in die water.

Een van talle pragtige strande

 

Krap

 

Brown Booby

 

Ons koop ‘n 3kg vis en ons sukkel om die vuur aan die gang te kry vir die braai. Vir twee dae eet ons vis en koop bykomende kos by ‘n supermercado ten duurste.  Een aand verwen ons onsself met ‘n lekker hamburger. Ons stap baie waar ons mag en sien ten slotte heelwat van die eiland.

Terug in Recife reis ons suid. Viv en Hanlie verlaat ons en reis noord in die rigting van Suriname aan die noordkus van Suid Amerika.

Groete  vanaf Johan en Marianne

Einde van ons eilandtrip